Chicky… sy was een uit ‘n miljoen

Ek het in my lewe al met baie honde te doene gehad, maar een staan uit. Haar naam was Chicky, ‘n Malamut Husky/Duitse Herdershond kruising. En haar storie vat my op ver onthou se paaie…

Dit was in die dae voor ons internet aan huis gehad het. Ek was op operasie werksoek uit, en die maklikste manier was om elke oggend vir vakante poste in die koerante te kyk. Sommer oorgeloop biblioteek toe. Nou ja, soos my aandag maar soms kan dwaal, het ek die betrokke oggend ook verby die poste die klein advertensies begin lees.

Een het my opgeval. Baba hondjies te koop. Dringend. Die ma was ‘n Malamut Husky, maar is dood kort na sy geboorte gegee het. Die adres was op ‘n plot buite Pretoria. Ek het vir Nico gebel. Op daardie stadium het ons net vir Heidi gehad. Heidi was sy hond. Ek het gevoel, dis net regverdig as ek nou ook ‘n hond kry. Wel, Nico was ‘n groot hondeliefhebber, en so het ons die pad gevat toe hy van die werk afkom.

Daar het ‘n storm gebroei, wat in ‘n goeie reënbui ontaard het teen die tyd wat ons op die betrokke plot gestop het. Weerlig het die krag uitgeslaan. Oral het lampe gebrand. Die vrou het ons ingevat en my eerste gedagte was aan die arme ma-Husky, want daar het klein hondjies van elke ras rondgehardloop. Ek het in die half donker ‘n Boerboel en ‘n Maltesie geidentifiseer.

Skielik het ek gevoel daar is iets by my voete. Ek het afgekyk op die klein hondjie wat haar bes probeer om teen my rok op te klim. Gebuk, opgetel, gesien die pa was ‘n Duitse Herdershond en summier my hart verloor. “Wat gaan jy haar noem?” het Nico gevra toe ons in die kar klim. “Chicky, sy word vernoem na my groen VW Chico” het ek geantwoord.

Ai sy was klein. Het net mooi in Nico se hand gepas. “Dink jy regtig sy is al 6 weke en dat sy self kan eet?” het ek hom benoud gevra. “Ons sal haar môre veearts toe vat” was sy antwoord. Nie gedink sy gaan daardie nag maak nie. Maar sy het. Ons is die volgende oggend met haar veearts toe, wat haar summier haar inspuitings gegee het. Sjoe, toe word sy eers siek. Vat ons haar maar na die spesialiste toe daar anderkant die Duitseskool. “Nee” het Dr. Martin kop geskud. “Die hond was nog te jonk vir inspuitings. Maar sy lyk sterk. Sy sal dit maak.”

En sy het. Aan die begin was sy so klein, sy het onder die bed se basis ingekruip. Dis toe dat ons vir haar die katbandjie met die klokkie gekoop het, sodat ons kan weet waar is sy. In die nagte het ek haar mandjie in die badkamer gesit en langs haar op die grond gaan sit en gesels tot sy slaap. Dis nie dat ons haar nie langs ons bed in die kamer wou gehad het nie, dis net dat sy Heidi so gefassineer het, dat dié haar papnat besnuif het, en almal weet baba hondjies het slaap nodig!

Ek het ook vir haar ‘n fopspeen in die hande gekry wat sy maande lank gesuig het. Ek en Chicky het ure omgespeel, met haar plastiekballetjie en haar beertjies. Ek het vir haar poppekas gehou en Chicky taal met haar gepraat. Geblaf het sy nie sommer nie. Sy het gegrom. Natuurlik het omtrent net ek haar grom verstaan. Ander was bang vir haar, maar meeste van die tyd was haar gromme maar net haar manier van gesels. Teruggepraat het sy baie.

Sy was drie maande en al mooi groot, toe sê Nico nou moet sy ook hondeskool toe. Ag liewe aarde. Dit was nou ‘n stryd. Hy het reeds vir Heidi gehad wat op daardie stadium in die gevorderde klas was, dus het ek myself in die beginnersklas bevind. Nou nie ek of my hond het baie geduld gehad nie. En sy was slim. Baie slim. So as sy nou na die derde keer alweer moet sit, dan het sy begin terugpraat as ek opdrag gee. Tussen die twee van ons het ons skool baie vervelig gevind. Na so paar maande het Nico haar maar gevat, maar sy het net so baie teruggepraat met hom!

Chicky was nie vreeslik lief vir mense nie. Daar was ‘n handvol uitsonderings. Oor my, Nico, my Pa en my nig Bessie was sy versot. So paar ander het sy aanvaar… die res hou verby.

Sy en Heidi het altyd lekker gespeel, tot die Saterdagmiddag laat. Ek was in die kombuis besig en die twee het mekaar al om die huis gejaag. Ek weet nie wat presies gebeur het nie, maar die volgende oomblik het ek ‘n hartverskeurende tjank gehoor. Storm uit en sien Chicky kan nie op haar agterbeen trap nie. Die been hang. Vat haar na die nood veeartse toe. Hulle sê hulle sal haar in die hospitaal hou, maar miskien moet ons dink aan uitsit. Ek huil die res van die naweek. Maandagoggend vroeg bel ek weer die spesialiste. “Bring haar dadelik!” Ons gaan haal haar. Sy kyk na haar been asof sy nie kan verstaan watse ding is aan haar lyf vas nie. Dr Martin en Dr Heidi het ondersoek ingestel en verklaar sy het ‘n senuwee daar by haar rug seergemaak. “Ons gaan haar hier hou en kortisoon gee. Kan julle haar elke dag vat vir waterterapie?” was hul oplossing.

So gesê, so gedaan. Vir die volgende twee weke het ek en Nico albei ons etenstye gevat, dwars oor die stad gery haar gaan haal en na ‘n vrou toe gevat wat waterterapie vir honde aanbied. Dan het Chicky haar “lifejacket” aangetrek en geswem. Die been het weer lewe gekry, sy kon weer loop. Soms was die been so bietjie styf, maar daar was niks wat sy nie kon doen nie. Natuurlik het madam met die jare besef as sy die been styf hou kry sy simpatie, veral by vreemde mense. So as iemand vir die eerste keer aan huis gekom het, dan het sy nou vreeslik gekruppel tot ek sê: “Sies Chicky, jy het netnou nog rondgehol.” Dan het sy my haar unieke glimlag gegee en heel normaal aangegaan.

Die een ding wat die juffie kon doen wat nie Heidi of Nooi kon doen nie, was om soos ‘n wolf te huil. Seker die Husky bloed in haar are. As die roomyskar verby gekom het of ‘n ambulans het sirenes aangesit, dan het sy soos ‘n wafferse wolf haar kop agteroor gegooi en gehuil. Natuurlik het die ander twee haar probeer nadoen, maar kon dit nooit regkry nie.

Sy het van kleinsaf ‘n liefde vir vrugte gehad. Jy kon ‘n nartjie hoe in die geheim probeer skil, as jy sien was sy daar om haar stukkie te kry. In die aande as ek gaan slaap het, het sy altyd eers langs my bed kom staan sodat ek haar kan vryf en nagsê voordat sy langs my bed gaan slaap het. Nooit op banke of beddens geklim nie. So het sy vir Nooi ook geleer. As dié op ‘n bank wou klim, het sy haar dadelik daar afgegrom.

Helaas, sy was maar 8 jaar oud, toe gee haar been en rug weer moeilikheid. Die dag toe ek besef sy het nie meer blaasbeheer nie en sy nie meer wou eet nie, het ek geweet dis tyd om haar na Nico en Heidi toe te stuur in die Hemel. Dis nou al 5 jaar later, maar ek mis haar steeds. My Chicky hond wat ek so na my hand, en geaardheid, grootgemaak het…

DSCN1190

 

 

Nooi die oorgroot Labrador

Ons het vier honde in die huis. Drie pekingnesies en ‘n oorgroot Labrador, Nooi. Sy is amptelik my hond. Ek en sy is al langer as 10 jaar saam. Sy word oud. Hierdie is die eerste winter wat die rumatiek haar erg begin pla. Vandag wil sy net lê. So asof die medisyne nie wil inskop nie en die koue nie uit haar bene kan kom nie. Brom en sug al die heeldag. 

Onthou nog toe ons haar gekry het. Ons was weer op vakansie in Graskop. Het reeds twee groot honde gehad. Daar was geen beplanning vir ‘n derde nie. Dag twee het ons middagete saam met vriende wat in Graskop bly. “Die dokter verkoop swart Labradorhondjies op die spreekkamer se stoep” sê Bertha. Ek sien sy het dadelik al Nico se aandag. “Ek weet darem nie” lug ek my mening. “Ons gaan kyk net” sy antwoord. 

Op die stoep twee swart bondeltjies in ‘n boks. Ek bel my Pa, “sal Pa kan hondjie oppas net tot die twee grotes gewoond aan haar is?” Pa sê ja en so het ons vir Nooi gekry. Vakansie kortgeknip en haar huis toe gevat.  Sy was woelig, slim en uitgeslape. Daardie eerste paar weke gereeld onder die staalhek deurgekruip om die wit punt van Chicky se stert te gaan hap. Chicky was ‘n Malamut Husky/Duitse Herdershond wat nie geduld het dat iemand naby haar stert kom nie. Maar Nooi was nie bang nie.

Kom een middag van die werk af. Net alles in die huis gesit, besef ons Nooi is soek. Sy was maar paar maande oud, maar reeds so groot soos die uitgegroeide Labradors by die hondeskool. Ons roep en fluit, maar niks, tot Chicky voor die toe motorhuisdeur begin blaf. “Sy is nie…” sê ek met groot oë, terwyl Nico gaan sleutels haal. Skuif die deur op, uit kom ‘n stertswaaiende Nooi, toe onder die spinnerakke, maar hoogs tevrede met haar eie avontuur. Sy het ingeglip toe ek die Fransman in die garage getrek het en lustig die agterste hoek gaan verken waar Nico ‘n paar goed opgegaar het soos net ‘n man goed kan opgaar.

Sy was nog nie ‘n jaar oud nie, kry ons haar een middag waar sy vir ons wag met ‘n  dikbek… gesig totaal geswel. Het haar toe dadelik in die kar veearts toe. “Sy moes ‘n  by probeer eet het, maar die by het eerste ‘n steek ingekry” lag die veearts en gee antihistamien. 

Saterdae het Nico haar hondeskool toe gevat. Sy het mooi en vinnig geleer. Slimmer as ons oudste hond, Heidi en baie geduldiger as Chicky. 

Vlak voor sy die trofee moes kry vir beste in haar groep, is Nico oorlede. Die hondeskool vra ek moet die geleentheid bywoon. Hulle was ook erg oor hom. Pa gaan gelukkig die oggend saam, want toe kom die anderkant van goedaardige Nooi uit. Sy wou enige persoon wat naby aan my kom byt. Ek gee toe maar haar leisels vir Pa en toe is sy weer rustig.

Sy was 5 toe ek besluit het om die stad bietjie te groet en Graskop toe te trek. Nooi het die drie jaar in haar geboortedorp baie geniet. Gereeld vir die beeste geblaf wat voor die huis geloop het, wegkruipertjie in die mistige dae gespeel en ure voor die kaggel opgekrul. 

Ek het gewonder hoe sou sy aanpas toe ek besluit om terug te trek na my ouers toe. Maar Nooi was nie gepla nie. Sy gaan waar ek gaan. Die laaste twee jaar het sy grys geword,  gehelp om twee baba pekingnesies groot te kry met baie geduld en pas sy my ma op as ek nie hier is nie. Sy blaf steeds as sy dink ek is laat met haar kos, brom as ek te laat TV kyk en loop lê in die gang as ek te veel kommentaar lewer tydens ‘n rugbywedstryd. 

Dis net die rumatiek wat begin pla. Ek weet 10 jaar is oud vir so groot hond en ek wonder of sy begin verlang om Nico, Chicky en Heidi weer te sien…

Die dag toe die hael gekom het…

Oktober 2014. Dis ‘n mooi dag op die plaas, die internet sukkel net weer en ek toer skootrekenaar en al na die groot huis toe in ‘n poging om beter sein te kry. Maak my gemaklik op die plaasstoep en gesels so tussen die werk deur met Ouma Leen.

My twee “plaasseuns” Jacques en Pieter kom maak ook kort-kort ‘n draai. Dis my tweede dag as deel van die span, en hulle help en deel raad uit so ver hulle kan. Piet en Ronel is Nelspruit toe vir aankope. Dis ‘n goeie uur en ‘n half se ry. Die volgende oomblik sê Ouma Leen, “ek dink jy moet inkom, hier kom ‘n weer aan.” Ek kyk op van die rekenaar en sien blougrys wolke wat gevaarlik vinnig naderkom. Haas my om die rekenaar af te sit en al my boeke en dinge in die huis te kry. Het ook net die sak in die sitkamer neergesit, toe begin dit reën.

Die twee jongmanne is ook in die plaashuis op soek na middagete. “Sjoe, dit reën hard” kom dit van Pieter en voor ek kan beaam, toe begin dit te hael. Ons spring om deure en vensters toe te maak. Dit hael al hoe harder. “Oh jinne, die makadamias” kom dit benoud van Jacques, maar ons kan niks doen nie. Ons kan nie eens praat nie, dit hael te hard. En dit hou nie op nie! Dit kletter op die stoep, teen die vensters vas en maak ‘n oorverdowende lawaai op die dak.

Ons staan met groot oë en kyk hoe die rose by die stoep stukkend geslaan word, en stroompies water tussen die hael op die grasperk vorm. “Dit reën in” kom dit oor die tweerigtingradio van die winkel en ontvangs se kant af. “Ons kom sodra ons kan” is al wat ons kan terug antwoord.

Uiteindelik hou dit op. Steek die son weer skaam kop uit tussen die wolke. Ons waag dit versigtig na buite om die skade te gaan betrag. Pieter bel sy pa met die slegte nuus, al die jong makadamias is van die bome geslaan. Die moerbeiblare lê stukkend op die grond. Dis die sywurms se kos. Die avo’s het ook sleg seergekry.

Onder by ontvangs hoor jy net sjloep-sjloep soos die besems water uitvee. By die sywurms is alles darem ongeskonde. Ek maak my weg tussen die lae hael deur om te gaan kyk of ons Tsanana Log Cabins nog staan. Hier was ons gelukkig. Een boom is onderstebo naby die swembad en oral lê hael en water, maar daar is nie verder skade nie. My Fransman, dis nou myse klein Renault Modus, het hael en blare op die windskerm, maar daar is nie skade nie. Die ou boom waaronder hy staan het hom goed beskerm.

In die geharwar kyk ek op en sien ‘n reënboog oor die vallei en ek weet ons sal okey wees. Die plaas is omskep in ‘n wit sprokiesland vir ‘n middag. En ja… die makadamia oes kon nie gered word nie, en ons moes maar self die meeste avo’s eet daai jaar, maar die rose het weer geblom, die moerbeibome het weer gegroei en binne ‘n paar weke was die Afrika Silks Plaas weer sy normale groen lushof.

‘n Amperse 24 uur in die bosveld

In Februarie  2014 het ek en Nurse Makgang van die Africa Silks plaas net buite Graskop in Mpumalanga die geskenk van ‘n leeftyd gekry…. ‘n nag se verblyf in Kapama River Lodge, Hoedspruit.

Ons het net na 11:00 die plaas verlaat en sommer aspris ompad gery… want dis die mooi pad, die een wat so deur Graskop koers kies al met die Blyderivier Canyon langs, verby die kolkgate en dan oor die Abel Erasmuspas deur die JG Strydom tonnel. Net na een uur is ons deur Kapama se hoofhek. Die sandpad het lank en warm voor ons uitgestrek. Ek het maar stadig gery, te bang ek sien nie die bord nie en verdwaal op 15000 hektaar bosveld. So met die indraaislag by die River Lodge toe staan daar drie mense om ons welkom te heet.

Ons ontmoet ons wildbewaarder, William en dié vat galant my motorsleutels uit my hand en verneem waar is ons bagasie. Ek wou nog kyk waar gaan hy nou met my motortjie (daai tyd het ek nog die Fransman gery) heen, maar Thomas, die assistent bestuurder, praat aanmekaar en ek besef ek moet luister. So praat-praat is ons by die imposante ontvangs in, hoor ons waar ons mag loop en nie mag loop nie en hoe die program gaan verloop. ‘n Glas yskoue vrugtesap bring lafenis en dan neem Thomas ons na ons kamer. Die man praat nog steeds, maar ek verstom my so, ek luister lankal nie meer nie. In die kamer is Nurse stomgeslaan om ons oornag tasse alreeds voor die beddens te sien staan.

Die kamer is groot met gemaklike stoele op ‘n stoepie. Voor die vensters en deure is daar gaas om die gogas uit te hou. Lugversorging hou die broeiende bosveld hitte buite. ‘n Briefie met ons name op, sit die program mooi uiteen. Ook maar goed so, terwyl ek nou nie eintlik na Thomas geluister het nie! Maar so is dit tyd vir middagete en ons kies koers na die groot restaurant waar ‘n buffet op ons wag. Ek is ‘n geswore karnivoor, Nurse eet net hoender en vis… maar beide van ons staan verstom voor die oorvloed om van te kies.

By Kapama kan jy nie wegraak in die massas nie, om elke hoek en draai loop jy jou vas teen iemand wat jou naam ken en seker maak jy is tevrede. Nou ja, die gemiddelde gas doen seker dinge soos beplan, maar ek is nou nie die gemiddelde gas nie. Na ete, besef ek my sigarette lê nog in my motor, en die mense was dan so gaaf om vir my ‘n asbakkie op die stoep te los. Probleem is, ek het geen ideë waar my motor is nie. Die man agter die ontvangstoonbank lyk bietjie verbaas toe ek my motorsleutels vra. Duidelik nie gewoond aan sulke voorbarige gaste nie. Maar ten einde laas is ek met sleutels in die hand op soek na die parkeerplek. Gelukkig merk ek ‘n man in uniform en kommandeer hom op om my by die motors uit te bring. Gifstokkies in die hand, kry ek toe darem uiteindelik ook rus op die stoep van die kamer.

Wou net lekker lui raak, toe jag Nurse my aan om vir die koffie-en-koek-sessie. Toe die meeste gaste verby ons begin stroom val ons sommer agter hulle in. Voor die ingang staan daar ‘n plaat wildbesigtigings voertuie, almal met ‘n menigte lawaairige toeriste op. Ek sien nie vir William tussen die skare nie. Gelukkig tree een van die spoorsnyers na vore. Hy stel homself voor as Willis en beduie ons moet solank op die voertuig klim. Die voertuig was oorspronklik seker ‘n Toyota Landcruiser, maar die bakkant bestaan nou uit drie rye sitplekke van verskillende hoogtes. Geen dak nie en voor op die enjin kap is daar nog ‘n stoel vasgemaak, wat ek genadiglik besef is vir die spoorsnyer, want ek sien al hoe val ek neus eerste in olifantmis as daar skielik rem getrap word.

Toe Willis nou beduie ons moet solank klim, toe wil-wil ek so bietjie benoud word, want die eerste vastrapplek is hoog en nou en dan is daar nog een, bietjie hoër. En dis vir daardie trappie wat ek sal moet  mik, want so sit daar reeds ‘n meisie in die eerste ry. Ek het nie vrees vir hoogtes nie, dis net my vertroue in die op en afklim het in die 1980s ‘n knou gekry, toe ek ietwat ongrasieus van ‘n Weermag Buffel afgespring het. Mag dalk nie vreeslik klink nie, maar ek was 17 en daardie jare was enige man in ‘n uniform nog vir my mooi…

Ek sien Nurse raak ongeduldig en weet as ek nie nou vinnig trap nie, weet die hele plaas na dese Gerda is bang. So haal ek maar diep asem, trap hoog en kry uiteindelik my sit. Ook net betyds want William kom aangeloop. Hy lyk verlig om ons te sien, blykbaar moes ons vir hom by die koffieplek gewag het.

Ons is net drie gaste op ons voertuig en William vat die sandpad op soek na wild. Hy bly nie lank op die grootpad nie, sommerso die tweede draai is hy op ‘n tweespoorpadjie die bosse in. Kort-kort lyk dit soos ‘n omgekeerde Meksikaanse Golf as Willis of William hand in die lug steek om teen oorhangende takke te waarsku en ons drie dan afduik om dit te vermy.

‘n Spannetjie sebras bondel in die veld. Een gaan staan astrant in die middel van die pad, asof hy wil seker maak ons spandeer genoeg tyd daar en jaag nie net agter die groot vyf aan nie.

Haastig is ons nie, al drie van ons geniet die rit op die oopbak terdeë en Willis en William vermaak ons met allerlei staaltjies oor die bos en diere. Ons proe hoe smaak ‘n geel maroela vars van die boom af en Nurse lag lekker toe hulle ons vertel watter blare mens in geval van nood vir toiletpapier kan aansien en watter jy liefs moet vermy.

Ons sien ‘n verskeidenheid diere van rooibokke en kameelperde tot by ‘n groot trop buffels. Met sonsondergang stop ons langs een van die vele watergate. Die manne haal ‘n tafeltjie te voorskyn wat hulle opslaan kompleet met ‘n tafeldoek en verder dek met neute, biltong en droeëwors. Die toeris van Suid-Amerika loer eers versigtig na die biltong, maar toe sy eers hoor dat dit net beesvleis is, eet sy lekker saam. Nadat almal se dors ook geles is, bestyg ons weer die voertuig. Teen die tyd word dit vinnig donker en algou word die hele nagruim omtower tot ‘n skouspel van sterrelig. Ek hoor die roep van ‘n naguil en asem die reuk van veld en diere diep in.

Na ons veldrit is dit tyd vir ‘n buitelug aandete. Rondom ‘n kampvuur is ons bederf met ‘n verskeidenheid disse van rooibokpastei tot by beesstert bredie en gebraaide snoek. So net voor nagereg, toe begin die personeel skielik sing. Ek sit rustig, my verjaarsdag ‘n paar dae terug vergete, tot die groep mense langs ons tafel tot stilstand kom, kompleet met ‘n sjokolade koek vir een met ‘n brandende kersie op. Ek word in drie tale toegesing, en bloos tot agter my ore. Nurse dink dis baie snaaks en sing sommer saam. Gewoonlik laat sulke dinge my onder die tafel inkruip, maar die mense sing regtig mooi en die seënwense wat hulle in Shangaan sing, bring ‘n knop in my keel.

Ons gaan slaap redelik vroeg, want hier moet mens vroeg wakker wees om wild te gaan kyk. Die volgende oggend wil-wil die son net begin kop uitsteek, toe ons wildrit begin. William is duidelik ‘n man op ‘n missie en vat redelik vinnig koers in ‘n rigting in. Ons hanteer die koue wind wat ons hare deurmekaar krap sonder kla en word binne minute beloon as William kry waarna hy op soek was… die renosterkoei en haar kalfie wei rustig in die bosse. Ons verkyk ons aan die statige diere wat so lui-lui loop en vreet. Die kameras klik aanmekaar. Dan draai die ou grotes weg, dieper die bos in en ons vat ‘n nuwe koers. Willis wys ons leeuspore in die sand. Nurse sit sommer bietjie meer regop, dis haar groot droom, om ‘n leeu te sien… ‘n regte een en nie net op TV nie.

Skaars ‘n kilometer verder word haar droom bewaarheid… ‘n ou groot maanhaar en wyfie lê rustig en slaap slegs ‘n paar meter van die pad af. Die mannetjie lig sy kop en bekyk ons soos ‘n koning wat lastige onderdane te woord staan. Geduldig wag hy tot ons kameras geklik het voordat hy verder slaap. Die wyfie maak nie ‘n oog oop nie, duidelik nie lus vir geselskap na ‘n lang nag van jag nie.

Ons spandeer kosbare minute langs die leeus voordat nog ‘n voertuig opdaag en ons verder ry.  Aan die oorkant van die rivier kom ons af op ‘n grasvlakte waar bokke, blouwildebeeste en sebras saamwei. Die twee manne dek weer die tafeltjie en die keer kry ons koffie en beskuit terwyl ons bietjie bene rek. Ver oor die vlakte kom kameelperde aan. Grasieus beweeg hulle nader aanmekaar en ek wonder of kameelperde ook familiebyeenkomste het, of dalk ‘n bosberaad. Om so oor die vlaktes te kan kyk en soveel diere te sien is ‘n voorreg, maar ook hartseer. Om te dink eenmaal het al Afrika se velde so oorgeloop van wild…

William kies stadig maar seker weer koers kamp toe, ons verkyk ons aan ‘n trop blou apies wat in die bome speel, ‘n verskeidenheid van voëls en groot spinnerakke wat blink in die oggendson.

Om ‘n draai word ons verras deur olifante. ‘n Jong bulletjie staan nader en probeer hard om ‘n tak van ‘n jong boompie af te breek nes sy ma gedoen het. Wanneer die matriarg na ‘n rukkie haar familie bymekaar maak, drentel hy soos ‘n stout kind agterna. Wanneer sy vir hom trompetter uit die bosse, kry die knapie skielik lewe en draf vinnig after die res van sy familie aan.

Na die vroeë oggend wildrit, is dit tyd vir ontbyt en daarna moet ons afskeid neem van Kapama, sy diere en mense. Wel dit was die ideë… behalwe dat ek bietjie rigtingbeduiweld is. Ek vat die sandpad terug hek toe… en ons ry… en ry… en ry. Die pad het nie gister so lank gevoel nie. Maar ons ry agter ‘n veldwagtersbakkie met toeriste so ek is redelik gerus dat ons nie leeukos gaan word nie.

Ten eindelaas stop die veldwagter en sy spoorsnyer kom vra wat maak ons nou eintlik. Nurse beduie vir hom in sy taal dat ons verdwaal het. Is toe dat ek hoor ons is nou oppad na die lughawe toe, heel in die verkeerde rigting. Die veldwagter beduie ons moet maar after hom bly aanry en vir hom by die hek wag. Ek doen toe so…. Tot by die hek. Veldwagter gaan deur, maar die hekwag kry amper ‘n oorval oor die privaat motor wat skielik voor hom staan. Hy wil niks hoor nie. Hy weet net ons mag nie daar wees nie en ons mag nie daar staan nie.

Tussen al die geraas verskyn ‘n bekende gesig skielik langs my motor… William, ons veldwagter. Hy lag net toe hy hoor hoe ek in my eie huis sal verdwaal as ek nie oplet nie. En die man maak ‘n plan. Druk knoppies op sy selfoon, kry die hekwag stil en skryf my besonderhede af. En toe… seker ‘n eerste in die geskiedenis van Kapama, toe maak hulle die “verkeerde hek” vir ‘n privaat voertuig oop. “Links Gerda, draai links, deur die volgende hek en dan regs Hoedspruit toe,” gee William nog vir oulaas instruksies om seker te maak hy moet my nie twee keer op een dag kom red nie.

In die motor heers daar stilte tot ons uiteindelik op die R40 regs draai Hoedspruit toe, toe bars ek en Nurse uit van die lag. Ons bly lag oor die groot verdwaal, oor die mooi wat ons gesien het, oor die baie eet, oor die mense wat vir my gesing het. En dis lekker. En sommer so vir die lekker stop ons by die Bourke’s Luck kolkgate op pad Graskop toe. Verkyk ons aan die water wat so “draai en draai doer onner” soos Nurse sê, neem foto’s en eet roomys…. twee mense van verskillende agtergronde, ouderdomme en kultuur, maar met gedeelde herinneringe van ‘n onvergeetlike amperse 24 uur in die bosveld.

Oor tee en koffie

Ek vou my hande om ‘n warm beker koffie. My vingers word so koud as ek op die rekenaar werk. Die koffie is warm, sterk en bitter soos ek daarvan hou. Kan nie onthou wanneer ek my eerste koffie of tee gedrink het nie. Moes baie klein gewees het. Daardie jare het niemand gekommer oor kaffeïne nie. Synde dat ek ook heeldag my neus in ‘n boek gehad het, kon niemand my ooit van hiperaktiwiteit beskuldig nie.

Vanoggend se koffie maak toe ‘n paar onthoupaadjies oop. Ek onthou hoe my Ouma Bessie altyd vir ons kondensmelkkoffie in haar fyn teekoppies gemaak het. Ja, koffie in teekoppies. Weet nie hoekom nie. Nooit gevra nie. Dit was vir my goed en reg. Gaan kuier ek vir haar in die dae toe sy op die 8ste vloer van Tweedypark Woonstelle in Brakpan gebly het. Ouma het nog gewerk, by ‘n drukkery in Boksburg. Buite is dit nog donker. Ek staan en kyk vir die liggies, terwyl sy die kondensmelk in die koffie inroer. Nie te veel geroer nie, want die laaste bietjie soetigheid eet ek met ‘n teelepel uit.

My Ouma is ook nou al lang se tyd nie meer met ons nie. So ‘n jaar of wat voor haar dood, toe gee sy op ‘n dag daai teekoppies vir my. “Ek drink nie meer tee of koffie nie. Ek weet jy het altyd van dit gehou.” En so gaan die stelletjie waar ek gaan, saam met haar twee rottangstoele en tafeltjie. Maar Ouma het vir my meer as dit gelos. Sy het my leer lees. Lank voordat ek moes skool toe gaan. Ek was mos storie bevange. Is nog steeds. Almal moes heeldag vir my voorlees. Pla ek haar weer eendag vir ‘n storie. “Nee my kind Ouma se kop is seer” haar antwoord. “Nou leer my dan om dit self te doen” my noodkreet. En sy het. My leer klank en ja… die res is geskiedenis.

Tee het ek altyd saam met my ander ma gedrink. Kittie. Was my Ma se oudste suster. Ek het naskool en vakansies by haar gebly. Ma het in die bank gewerk, so Kittie het na my gekyk. Elke middag om presies half vier, het sy gesê: “Dis tyd Ounooitjie.” Dan het ek my huiswerkboeke opgepak en gaan tee maak. Vir haar in ‘n koppie en piering, vir my in my spesiale wit bekertjie met Mickey en Minnie muis op. Ek het nog die beker. Ek drink nie meer tee nie. So af en toe rooibostee as ek my koffie limiet vir die dag bereik het. Gewone tee net in krisistye as ek Kittie se raad nodig het. Soos die dag wat sy haar by Ouma in die Hemel aangesluit het, en daai mislike tyd toe Nico siek word en ook in die Hemel gaan help het met die tuine. Al drie van hulle was mos so erg oor tuinmaak… Maar dis ander dag se stories.

Kittie se tee moes net reg wees, nie te sterk nie, nie te flou nie. Soms was daar beskuit by. Dan as ons elkeen gemaklik sit met die tee byderhand, het ek ‘n boek uitgehaal en vir ons voorgelees. Jan Spies, PH Nortje, Briewe van Kleinjan, Tyl Uilspieël in Afrikaans… Die een storie op die ander, totdat my Ma van die werk gekom het. Was spesiale tye.

Ns. Indien julle wonder oor die kokon by Ouma se teekoppie. Dis ‘n sywurmkokon. Ek doen vryskutwerk vir Africa Silks en het op ‘n kol die geskiedenis van sy aan die hand van die foto op die SilkAfrica facebook blad vertel. 🙂

20160312_160240

 

‘n Binneshuise piekniek

Vandag dwaal my gedagtes op lank terug se tye. Ek onthou die slag toe ek 33 geword het, het ek skielik die gier gekry om ‘n partytjie te hou. Iets wat ek nie sommer doen nie. Daardie jare het ons nog in Pretoria gebly. (Dit was lank terug, voor ek weduwee geword het.) So het ek en Nico die kant toe gedink en daardie kant toe oorweeg en uiteindelik toe kry ek een van my blink planne.

‘n Binneshuise piekniek. Maar eers het ons vir ‘n week gaan vakansie hou. Stap ons die Vrydagoggend in die huis en besef, die volgende dag daal vele vriende en familie op ons neer, ons moet begin plan maak.

Spandeer die res van die dag om allerande piekniekkos te maak, van frikkadelletjies tot by kaas en worsies op stokkies. Pa het laat weet hy bring viskoekies. Nico het die sitkamer so gekyk en gevra: “Nou waar wil jy met al die mense heen?”

Die toe dat operasie “nou skuif ons die huis begin het”. Sitkamerbanke en tafels is in die spaarkamer ingedra. Op die deur het ‘n bordjie verskyn “alleenlik personeel”. Al wat kussing en kombers is, is sitkamer toe. Vir die mense wat nog kans gesien het vir vloer sit. Vir die ouer garde was daar kombuisstoele en kampstoele. Die opslaantafel is gedek met al die lekkernye. Teen die mure het ek foto’s van wilde diere geplak… die mense moes dink hulle is buite.

Sommer my grys seekoei en pienk bobbejaan ook uitgedra. Die familie se kinders was nog klein en hulle wou dalk speel.

Almal het toe ingepas. Ek het gesien van die skoonfamilie dink ek het nie my varkies op hok nie, maar synde dat hulle altyd so gedink het, het ek nie omgegee nie. Ek het selfs op ons slaapkamer ‘n nota geplak “babakamer” vir die slag as ‘n kleintjie se doek omgeruil moes word.

Dit was toe ‘n groot en lekker kuierdag. En soos by enige piekniek het die miere gepla, die kinders gespeel, die honde geblaf en het almal hopeloos te veel geëet. Was interessante tye. Lank terug se tye. Maar lekker om nou te onthou. DSCN1129

Sommer so is dit winter

Net laasweek was die wasgoedmandjie nog vol kortbroeke en t-hemde. Toe slaan die eerste kouefront van die nuwe seisoen ons mos oor die naweek. Tipies ek, moes ek eers kas omkeer agter denims en truie aan. My ‘n rukkie gevat om my winterskoene op te spoor.

Dis mos nou die ding met in Suid-Afrika bly. Die somer is so lekker lank, mens vergeet van die drie, somtyds vier maande se winter. Vergeet van die wasem wat jy in die oggend uitblaas en jou hande en neus wat maar net nie wil warm word nie. Ek het op die Hoëveld grootgeword. Wintermaande was die gras witgeryp. Ons grootste pret in die laerskool was om voorskool op die gras te gly. Ja ons skoolklere het tweede gekom, ja ons klere was nat as die skool begin. Maar nie een van ons het blywende skade oorgehou  nie. Was ‘n lekker manier van warm word.

Maar hierdie jaar se winter voel vir my te gou. Die kouefront het my onverhoeds betrap. Ek was nog nie geestelik gereed nie. Pa het die weer so betrag en toe op ‘n kosmaakmissie gegaan. Die hele naweek. Ma het gedink dis ‘n goeie idee en ‘n pot boontjiesop aan die kook gekry. Daar eet ons toe die hele naweek… aanmekaar. Sop en pannekoek, skaapvleispastei, gebakte poeding en melkkos. Was lekker, maar die skaal het so bietjie gekreun toe ek my lewe daarop waag na die naweek.

Is mos makliker om reg te eet in die somer. Dan is daar ‘n oorvloed vrugte en slaai is koningskos. Maar die winter, die winter is gemaak vir warm bredies, tuisgemaakte sop, boek lees en natuurlik rugby kyk. blog 1 melkkos