Skrywersengel preek alwéér

“Die Republiekdag. Vandag skryf ek ‘n storie oor die goeie ou RS van A” verklaar sy trots. Haar skrywersengel stik amper in sy koffie. “Is jy nou heeltemal gek?” vra hy, sy oë groot.

“Nou wat is daarmee verkeerd?” vra sy en begin sing “Hoor jy die magtige dreuning? Oor die veld kom dit wyd gesweef. Dis die lied van ‘n volk se ontwaking…”

“Nee!” sê hy en druk sommer ‘n vlerkveer in haar mond. Sy nies vies toe sy vere haar neus kielie. “Nommer 1, skoenmaker hou jou by jou lees. Skryf liewer, jy weet jy het vergeet om in die sangtalent ry te staan. Nommer 2, skryf nou oor Republiekdag en almal kryt jou dadelik uit vir ‘n verregse en ‘n rassis.”

“Maar ek is nie…” protesteer sy dadelik. “Ek is net gek oor my land en my taal, en die Springbokke… ”

“Ek weet dit. Jy weet dit. Maar jy weet op die internet, kyk mense jou vlak, en hulle oordeel, en hulle raas en baklei. En jy weet hoe voel jy oor konflik.”

Sy sug en sluk die knop in haar keel weg. “Jy is reg. Ek wou maar net geskryf het van my laerskooldae, waar ons altyd so vlak voor 31 Mei flieks in die skoolsaal gekyk het. Was sulke swart-en-wit movies van tannies met langrokke en kappies en ooms op perde. En ossewaens wat oor die vlaktes kreun.

“Daarna het ons die vlag gehys en die vlaglied gesing. Nooit hoef jou kinders wat trou is te vra, wat beteken jou vlag dan Suid-Afrika? Ek weet ons het nou ‘n ander vlag. En ek hou van onse bont vlag. Ek huil steeds as hulle die vlag hys as een van ons Olimpiese swemmers goud gekry het. En ek probeer altyd Nkosi Sekel’ iAfrika sing as die Springbokke gaan speel. Sukkel net bietjie, want ek kry mos die knop in die keel as hulle so daar staan en die lied speel. Dis vir my so mooi.”

“Ek dink steeds dis ‘n slegte idee” verklaar hy en vou sy arms. “Skryf liewer oor die berge en die see of die diere in die wildtuin of jou honde by die huis.”

Sy loer vir hom oor haar bril. Sy weet hy is reg. Maar sy kry nog vir oulaas ‘n steek in. “Het jy geweet mens kan die Stem op die wysie van Liewe Heksie se temaliedjie sing en op die wysie van die Yellow Rose of Texas?” Sy voeg dan sommer die daad by die woord en trek los met “Uit die blou van onse hemel, uit die diepte van ons see, oor ons ewige gebergtes, waar die kranse antwoord gee!”

Skrywersengel gryp die leë koffiebekers en loop. Stamp amper sy kop teen die kosyn, omdat hy weer vergeet het om te buk. Sy vlerke klap-klap agter hom aan. “Doen liewer jou werk” praat hy vanuit die kombuis. “Niemand betaal jou om te storie nie. Jy het “deadlines!”

“Moenie jou tale meng nie. Die korrekte Afrikaanse woord is sperdatums” snip sy terug en trek dan los met “Shosholoza… shosholoza. Ku lezontaba. Stimela si ghamuka e South Africa” net om hom te irriteer én omdat sy van die liedjie hou.

springboks12

 

‘n Gedugte span en koffie…

Warm melkkoffie maak ‘n brandpaadjie oor haar tong en keel. Sy kom dit skaars agter. Haar oë op die TV, soekend na iets om te kyk. Die afstandbeheer land weer op die koffietafeltjie. Sy sug. 

“Is daar alweer niks op TV nie?” praat hy skielik hier neffens haar. Sy kyk langs haar. Hy lê op die bed wat skielik veel kleiner vertoon. Sy voete skop teen die kas vas. Sy vlerke skuur teen haar skouer. Sy groot hande agter sy kop gevou. 

“Is dit ‘n retoriese vraag? Jy kan mos sien elke kanaal saai strooi uit” is sy sommer vies. Meer oor die skrik as die vraag. 

“Kanseleer die kontrak. Jy kan dit in allegeval nie bekostig nie. Jy het baie dvds en boeke” ignoreer hy haar viesgeid en vee sy vlerkpunt teen haar oor.

Sy stoot die vere bietjie eenkant toe. “Ek sal nog” sê sy en soek haar koffie wat oomblikke terug nog op die tafel gestaan het. “Ek wens jy wil leer om suiker in jou koffie te drink” sê hy en gee vir haar ‘n byna leë beker terug. 

“Ek wens jy wil ophou om my koffie te drink. En ek sal nog kanseleer. Dis rugbyseisoen.”

“En daarna begin die krieket” lag hy. “Erken maar jy hou van TV kyk. Maar eintlik moet jy skryf” raak hy kwaai.

“Sal môre” sê sy en loer vir hom oor haar bril. “Vanaand is ek moeg.”

Hy sit so vinnig regop, sy vlerkvere vee deur haar gesig. “Van uitstel, kom afstel” verklaar hy dramaties. “Watse soort skrywer is jy dat jy te moeg is vir skryf?”

“Watse soort skrywersengel is jy dat jy in clichés praat?” raas sy terug.

“Sommer net joune” verklaar hy plegtig voor hy haar met ‘n kussing gooi. Sy steek vir hom tong uit en begin te lag. Hy weet soos wat sy weet, hy is nie die wêreld se beste skrywersengel nie en sy is nie die beste skrywer nie, maar saam maak hulle ‘n gedugte span – al is dit net om ‘n blog sonder tema, storie of punt te skryf 😊

Ek en my boeke…

Ek en boeke is al van kleinsaf groot maats. Ai en by ‘n tweedehandse boekwinkel moet ek liewer nie ingaan nie. Ek kan geld op boeke uitgee soos wat ander vroue klere en skoene koop.

Nee, ek lees nie noodwendig net Afrikaans nie en die swaar letterkunde moet maar verby hou. Ek wil ‘n storie verstaan as ek dit lees.

Op my boekrak kuier ‘n groot verskeidenheid van skrywers en stories saam. Gepak in ‘n volgorde wat net vir my sin maak. Ek het die afgelope vyf jaar drie keer getrek en elke keer was die boeke eerste gepak. Niemand mag gehelp het om  dit in of uit te pak nie.

Alhoewel, toe ek die slag van die een kant van Graskop na die anderkant getrek het, het ek hulp gehad. My huiswerker, later kollega en goeie vriendin, Lucy se  seuntjie Jordan was toe 11 jaar oud. Hy wou help, toe pak hy solank boeke uit.

Kom ek by die boekrak, toe drink Shakespear tee saam met Liewe Heksie, Trompie het verdwaal in die 2de wêreldoorlog en Jane Austin verstom haar aan die vampires in Twilight. Ek het lank gesit die aand om dit reg te kry. Reg moes dit dadelik reg, die ander goed kon maar vir eers in die bokse bly.

Ek kry nog nie vat aan e-boeke nie. Verkies nog om ‘n regte boek in my hande te hou, die papier te voel, die reuk te kry…

Sekere boeke word jaarliks gelees. So kan ek my steeds verkneukel in die Maasdorpreeks en Stories van Rivierplaas. As ek die dag siek is, dan bring Daddy Longlegs troos en om een of ander rede lees Shakespear se komedies vir my lekker as ek in ‘n vliegtuig is. 

Die boekrak moet gereeld afgepak en afgestof word. Dit vat ure. Dan wonder ek vir ‘n oomblik: “is al die boeke regtig nodig?” Maar hoe sal ek ooit die ou vriende kan weggee? Anne of Green Gables gaan kuier gereeld by Heidi. Ek is seker Trompie konsistorie saam met die Uile by Jan Spies en PG du Plessis as ek nie hier is nie en nou die anderdag het ek President MT Steyn gesien waar hy gedigte van AG Visser aan Pollyanna voorgelees het.

Elke boek het ‘n storie. Party is al voos gelees, ander net eenkeer, maar vir elkeen  is daar ‘n plek. Van my 1977 Bollies tot my Ouma se handgeskrewe resepteboek. Saam vorm hulle my kleurryke wêreld van motivering, inspirasie en ontvlugting.

Die President word ingehuldig

Dit was mos so by die draai van die eeu. 1999 om presies te wees. Kry die goeie ou RS van A ‘n nuwe president en hy moet ingehuldig word. Nou ek weet op TV lyk dit sommer so tjoef-tjaf en rustig, maar daardie jaar het ek besef watse groot werk en kaskenades sit agter so inhuldiging.

Werk ek daardie jare vir DOW. Dis ‘n staatsdepartement verantwoordelik vir baie dinge onder andere om te sorg dat die verhoog gebou word, die stoele skoon is en die gras groen is by belangrike staatsfunksies. Ek was nie veronderstel om deel te wees van die span nie. Sit nog een dag en doen my werk op Hoofkantoor, toe kry ek die oproep. Ek moet kom help met die mediaspan wat mense ingelig hou oor watter paaie toe gaan wees vir die groot okkasie.

Intussen is my kollega, Dries, ingetrek om te kom help om padkaarte te teken. Hy het mos so grafiese streep gehad. Staan ons heel onskuldig daar bo by die Uniegeboue, toe die Projekbestuurder verby kom. “Nee, hier staan ons nie rond nie. Hier werk ons. Gaan help bietjie met die stoele.” Nou ja, hy was ‘n Direkteur, ons was beamptes, en ons gaan help  maar… tot na die inhuldiging!

Ek onthou die hoofdirekteur van ons afdeling het gestoom en geblaas, gemor en gekla, maar wat kan nou belangriker wees as die president se inhuldiging?

Maklike werk was dit nie. Synde dat ons nou nie eintlik argitekte of ingenieurs is nie, was ons nie betrokke by ontwerp en bou nie, wel by stoele aandra, stoele skoonmaak, stoele met plasties oortrek – die duiwe by die Uniegeboue het mos geen maniere nie – vlae hys en die klas van goete.

Dit was ‘n ewige gependel tussen die Uniegeboue en daai groot park waar al die Ministers hul ampswonings het om seker te maak alles is reg en onder beheer. Soos die groot dag nader gekom het, so het ons ure al hoe langer geword. Was nie snaaks om eers na 11 in die aand huiswaarts te keer nie. Ek onthou hoe ek die een Saterdagmiddag alweer stoele gewas het en toe so ‘n slag gaan sit het om oor die stad te kyk. “Maggies is dit nou waarvoor ek vier jaar geswot het?” het ek gedink, want op daardie stadium wou my rug afbreek. Maar ag wat, nie lang daarna nie toe maak ons Adjunk weer haar verskyning met haar braaipan onder die een arm en haar mandjie gelaai met kos in die ander.

“Ek het vir julle aandete kom maak” verklaar sy. “Roep die res, hier is OBS, julle lyk vir my bietjie koud.” Dit was koud ja, want dit was in die middel van die winter.  Sy het ons baie gehelp, die Mariétte, al was sy ook nie amptelik op die span nie. Soos die dag toe die landsvlae moes op. Jy weet daardie wat so skuins hang daar bo in die amfiteater.  Maar die wind by die Uniegeboue het nog minder maniere as die duiwe wat heeldag op die stoele blerts, karring mos die heeltyd die vlae om die pale en hoe gaan dit nou op TV lyk?

“Loop kry vir my van daai gewiggies wat die vissermanne gebruik” sê sy toe ons moedeloos al hier by ons skoensole te sit. “Om wat mee te maak?” vra ons agterdogtig. “Julle sal sien, loop kry dit net” haar antwoord. Werk sy toe wraggies die sinkers in die some vas en daar hang die vlae perfek! (Nou weet ek ook mens is nie veronderstel om so met ‘n landsvlag te karring nie, maar ‘n probleem is ‘n probleem en ‘n oplossing is ‘n oplossing.)

So paar dae voor die tyd gewaar ek die Tuinboukundiges met groen verf. Nuuskierig was ek nog altyd nuuskierig en ek staan nader. “Wat gaan julle nou verf?” vra ek. “Die gras” kom die kort antwoord. “Al die grasperke?” vra ek ongelowig. “Nee, net waar die belangrike mense moet verby”.

Hoeka amper ‘n geveg met die einste Tuindboukundiges gehad. Hulle het om die vlagpale buite plantjies gaan pak. Sodat dit nou mooi lyk sien, die ou blommetjies. Maar toe moes ons nou daar vlae hys. Dit was ook ‘n gedoente, want Daleen weet hoe om ‘n vlag te hys, maar as sy opkyk raak sy duiselig. So moes ek toe al agter haar aanloop met die sak met vlae, synde dat ek die junior was. Dan hys sy die vlag, maar ek moet opkyk en vir haar sê waar om te stop. En die plantjies was in die pad, toe skuif ons dit weg, maar nie weer terug nie. Ag aarde, wip daardie tuinboumanne hulle weer in ‘n ander bloedgroep in. (Dink ook van daai gewippery was aansit, want ek het kort daarna met een van hulle begin uitgaan en is later met hom getroud.)

Dag voor die groot gebeurtenis, verklaar een van die Direkteure: “Ons kort nog ‘n gholfkarretjie. Loop kry dit by die gholfbaan op die landgoed.” Dis nou waar al die ministers se ampshuise is. So straataf. Maar dis ‘n publieke pad… Volunteer ek en Dries weer vir die aksie. Nie dat ons in die openbaar gesien kan word nie, ons is van kop tot tone onder stof soos ons al gewerkskaf het die dag. Presies hoe ons daar gekom het, kan ek nie meer onthou nie.  Ons sou nie geloop het nie, dit was nie in ons geaardheid om soveel energie te spandeer nie. Iemand het ons seker gevat. Besluit ons, ons ry die gholfkarretjie terug. Natuurlik sal die Tuinboukundige waarop ek ‘n oog het, net op daardie stadium my sien, maar wat daar was nie tyd vir skaamkry nie. Ons lag te veel. Soos ons die Uniegeboue nader, ry ons, ons vas in ‘n hele skare verkeerspolisie besig met hul “dry run” vir die volgende dag. Ons is alweer onwettig, maar ons waai maar net uitbundig vir die spulletjie wat darem verstaan het, dat ‘n probleem ‘n probleem is en ‘n oplossing ‘n oplossing.

Laatmiddag sê die groot kokkedore, die verhoog is klaar ons kan maar die stoele bring. Nie die plastiek stoele wat ons al drie weke lank was en oorwas en oortrek nie, nee die baie grênd, swaar houtstoele wat daar doer onder op die verhoog moet kom. Verhoog synde nou die glaskas wat hulle bo-oor die fontein gebou het en waar die President nou ingehuldig moet word. Dié het tot ‘n rooi tapyt in, wat pas gewas is. So kom ons met die sware houtstoele gebalanseer op ons koppe die trappe af. Kom jy onder by die verhoog, dan moet jy eers skoene uittrek, anders trap jy die rooi tapyt vuil. Stoel neersit. Skoene aan en dan weer op met die trappe vir die volgende stoel. Die stoele was nog niks, maar toe het hulle ‘n baie grênd houttafel daarbinne, wat ek gelukkig nie gehelp dra het nie. Dié moet ek blink vryf.

Makliker gesê as gedaan. Want jou wraggies waar was daar alweer van daai Men in Black ooms. Ek het net die tafel blink, dan leun daai manne met hul hande op die tafel en beloer die koeëlvaste glas en sê “nee skuif ‘n paar mm vorentoe”. Dan word die tafel geskuif. Dan sê die groot kokkedore, “maak skoon die vingermerke.” Kom die Men in Blackspan weer in, druk weer op die tafel… julle kry dieprentjie.

Dit was na 11 toe kom ek by die huis. Twee uur die volgende oggend toe is ons weer aan diens. Al daai baie stoele se plastiese oortreksels moes afkom en die stoele moet presies waterpas staan.  Van die eerste gaste moes al dou voor dag by die registrasie punt wees en hul plekke begin inneem. So by 7 uur die oggend toe gaan trek ek my vuil span-themp en denim uit in ruil vir ‘n netjiese langbroek en top en kry die kamera. Van spanwerker tot joernalis in 5 minute. Hier teen 11 uur die oggend toe dop ek om tussen die stoele in ons “kantoor” en word eers wakker toe een of ander groot staatsman uit die buiteland sy verskyning maak en die skare juig asof ons weer die Wêreldbeker gewen het.

Die volgende dag, was ek meer as net laat vir werk, maar die Projekbestuurder het verstaan en synde dat ek onthou het om melk vir die koffie te bring, was ek ook dadelik vergewe.  Ek en Dries het nog gehelp met opruiming toe hoor ons die President gaan sy nuwe kabinet aankondig. Nou ja, net daar en dan gryp ons, ons DOW ID-kaarte en storm vir die mediakonferensie. Kry goeie sitplek, maar ons is bietjie vuil tussen al die ander netjies gekledes. “Gelukkig ken min mense ons hier” vertel ek nog vir Dries. Sal die simpel TV-kameraman toe nou nie wraggies op ons fokus op ‘n stadium nie. En natuurlik het my ma’lle nuus gekyk en my gesien. “Jou hare was bietjie deurmekaar” was haar kommentaar.

So kry ons departement ook ‘n nuwe minister wat ons dadelik wou afneem en storie wou kry vir die departementele koerant. Probleem is, ons het nie geweet watter vrou tussen die see van nuwe ministers en adjunkministers is ons nuwe minister nie. Vra ek toe sommer die joernalis hier langs my. Die man was gebaadjie en gedas en het gelyk asof hy moet weet. Hy beduie my daar in die rigting van ‘n vrou met ‘n kolletjiesrok aan. Stormloop ons toe nou ook die tante net soos die mediakonferensie klaarmaak. Sy luister ons storie uit, glimlag oor ons so stofbedek is, en beduie vir ons, sy is by Behuising. Die Openbare Werke tannie staan daar anderkant. Roep haar toe ook sommer nader en vertel die storie. Oeps!

Gelukkig het Minister Stella Sigcau ‘n ongelooflike sin vir humor gehad en was ons eerste foto van haar een waarop sy baie breed glimlag. Ek sou in die jare wat kom nog baie met haar te doen kry. Vandag is sy ook al oorlede, maar by haar het ek baie geleer.

Na ons amperse foto fiasko, toe wil ons weer by ‘n sydeur uit om terug te gaan na die span toe. Loop ons, ons alweer teen die Men in Black brigade vas. “Die media kan nie hier uit nie. Die President is op pad” grom hulle. “Maar ons is nie media nie” verklaar Dries en swaai sy ID-kaart voor die ou se neus, “ons is DOW en ons moet daar gaan help.”

“Maar dan moes julle nie in die mediakonferensie gewees het nie” hoor ons die ou nog brom, toe is ons al by die deur uit, waar ons in allegeval in ons spore gestuit is, want toe kom die nuwe President en ‘n hele gevolg verby. Ons maak onsself klein teen die muur, want die manne loop breed, maar dit was so amper of die President het my tone raakgetrap!

‘n Haai-aanval in Pretoria en die klas van dinge…

Ek het mos nou al in my lewe op ‘n paar plekke gewerk. Van “casual” in die bank in my studentedae… dit was ‘n ramp… tot by aanlynredakteur speel van ‘n tydskrif. My eerste groot en rêrige werk in die kommunikasieveld was by ‘n staatsdepartement in die 90s.

Ek het daardie een nogal geniet. Dit was een van die kleiner departemente  wat meer met die ander departemente as die publiek te doene gehad het. Juis daarom moes ons elkeen ‘n “allrounder” in die kommunikasieafdeling wees. Binne ‘n paar maande het ek ondervinding gehad in alles van uitstallings en persverklarings tot by koerantuitleg en toesprake skryf.

My grootste vreudge was toe ek ontdek het die Nasionale Dieretuin in Pretoria val nog so half en half onder die departement, en dit was loopafstand van my kantoor af… So was ek daar toe die olifante in hul nuwe kamp ingetrek het, Hobbit die gorilla sy  21ste verjaarsdag gevier het, die Komodo Dragons hul eerste tree in hul nuwe huis gegee het en die Koalabere verwelkom is.

Ook vir die eerste, en ek vermoed tot op hede, enigste haai-aanval in Pretoria se geskiedenis! Die dieretuin het op daardie stadium ‘n “ragged tooth shark” – geen idee wat sal dit in Afrikaans wees nie – gehad. Die haai moes ‘n nuwe tenk kry en onse departement is opgekommandeer om te help met die bou. Kom die dag toe wat Mnr. Haai (kon Mev. Haai ook wees) toe gevang moes word vir die groot trek. Al wat ‘n koerantverslaggewer en ek (ek het die departement se koerant verteenwoordig) was daar. Die dieretuin het die water tot so by kniehoogte uitgetap en toe is daar een man in om Haai aan te keer. Na ‘n groot gesukkel is Haai toe darem nou amper uitgelig deur die manne wat gereed staan om te help met die draslag. Teen daai tyd was Haai ook nie meer in ‘n goeie bui nie, hap toe sommer na die naaste been hier voor hom. Gelukkig kon hy net die arme man se maermerrie skraap. Het hy hom van die kant af gebyt dan was hierdie nou ‘n treurverhaal. Maar die volgende dag toe verkondig die groot Ingelse koerant dit op hul voorblad: “Shark attack in Pretoria!”. En ek was daar…

Ek onthou ook ons eerste uitstalling goed. Elke jaar het elke departement mos ‘n begrotingsrede in die Parlement. Dis ‘n hele gedoente wat ‘n week lank aanhou. Hier in die middel 1990s toe besluit ons, ons gaan nou uitstalling in die Parlementsgebou hou tydens ons department se begrotingsweek. Voor ons het niemand anders nog daaraan gedink nie. Na ons het baie gevolg. Maar daardie eerste jaar… Die uitstallingsmateriaal was nie die ligte raamwerke van nou se dae nie. Dit was hopeloos te swaar om op ‘n vliegtuig te laai. Dis toe wat ek en die grafiese ontwerper kombi huur en die pad vat Kaap toe.

Ons was so vlak voor Bloemfontein toe kry ons ‘n pap band. Die son was net so aan die sak. Daar kry ons nie die spaarband los nie. Die kombi was van Durban en die spaarband het vasgeroes. Ons het die kommunikasieafdeling se enigste selfoon gehad. Jy weet daardie jare was die fone nog so groot soos bakstene en so skaars soos hoendertande. Bel ek die Direkteur in die DG se kantoor, maar die vrou lag toe so oor ons penarie en oor sy die tale gehoor het wat die Grafiese Ontwerper gespreek het terwyl hy sy wit hemp onder ‘n kombi vuil smeer, dat sy nie aan ‘n plan kan dink nie. Ten eindelaas word ons toe ingesleep tot op Bloem waar ‘n werkswinkel so uur of twee gespook het om die band te vervang. So kom ons toe eers anderkant teetyd die volgende dag in die Kaap aan.

Die uitstalling het goed afgeloop. Die een aandfunksie wat ons by die uitstalling gehou het was amper ‘n flop. Jy sien, ons stal toe uit vlak voor die Ou Raadsaal waar Eerste Minister Verwoerd destyds gesteek is.  Plaas bly ek en die einste Grafiese Ontwerper toe nou maar stil, maar ons was nog jonk en stout en albei het sterk verbeelding gehad. Vertel ons vir die DG se sekretaresses dit spook mos nou daar in die Ou Raadsaal… Weier hulle ampertjies om by die funksie te werk van pure banggeid. Kry ons weer raas by die Adjunk en die Direkteur, maar ons het jare daarna nog oor die spookstorie gegiggel.

So op ‘n ander jaar is ek en een van my destydse kollegas amper in die einste Parlement gearresteer.  Dit was weer begrotingstyd en ons was hard aan die werk tussen uitstalling en persverklarings en toesprake skryf. Ek dink die Adjunk Minister was aan die woord, toe kom die boodskap ons moet dadelik nog afskrifte van die toesprake na die galery neem. Op daardie stadium was ons in die Departementele kantoor oorkant die Parlement. So storm ek en Dries toe met die pak papiere by die Parlement in, maar die sekuriteit weet ons is van DOW en hulle kan sien ons is op spoed. Van inteken en besoeker-plakkers kry was daar toe geen sprake nie. Dit was eers toe ons nou behoorlik in die gebou is, dat ons besef ons is nie seker waarheen om te gaan nie. Ons storm toe maar voort gang af totdat ons op ‘n kol op twee manne afkom wat lyk hulle kom uit “Men in Black”. Dis net swart pakke en mikrofoondrade om die ore… “Wie is julle? Waarheen gaan julle? Het julle sekuriteitsklaring?” onderwerp hulle vir ons net daar aan ‘n ondervraging.

“DOW. Begrogting. Adjunk Minister toespraak” is al wat ons uitasem uitkry. Openbaar die twee manne toe darem medemenslikheid en sê: “Nou draai julle om. Gaan daar links en dan regs. Vinnig. Op die oomblik is julle in hoë sekuriteit Nasionale Intelligensie se gebied. Ons kan jul arresteer…” hoor ons nog soos ons die hasepad kies.

Groot gelag daaroor daarna, maar op daardie betrokke minuut was ek baie benoud! En dan was daar die keer toe ek deel was van die span wat met die Presidensiële inhuldiging se voorbereiding moes help, om nie te praat van die keer wat ek ‘n Ingelse adelike se aandag van bossies in ‘n begraafplaas moes aflei nie. Maar dis stories vir ‘n volgende keer…

20170526_172436
Hobbit se 21ste verjaarsdag in die Nasionale Dieretuin. Hy is in 2009 dood weens diabetes toe hy 30 jaar oud was.

Daai vakansie in Namibië…

My 40ste verjaarsdag was om die draai, toe ek die groot besluit maak. Ek gaan vir my broer in Windhoek kuier. Nou om mooi te verstaan van Ruhan, moet ek jou eers stukkie geskiedenis vertel…

Desjare toe ons nog eerstejaars op die PUK was, het ek en Ruhan vriende geword. Groot vriende. En êrens in daardie jaar het hy my Ma ontmoet. Sy was so geskok oor die “kind” wat so ver van sy ouerhuis af swot, dat sy hom summier “aangeneem” het. Elke toetsreeks en eksamen het Ruhan ‘n pakkie gelaai met eetgoed gekry.

Wel, synde dat ek altyd broers versamel, het die situasie my goed gepas. Ons het vir almal wat wou, en nie wou hoor nie, vertel ons is familie. En hulle het ons geglo. Albei van ons het ‘n goeie verbeelding, so party dae het ons met die allervreeslikste stories vorendag gekom oor hoekom hy dan nou in ‘n ander land grootgeword het.

Na universiteit het ons kontak verloor, maar danksy bakkiesblad mekaar weer opgespoor. “Kom kuier “ het hy van die begin afgesê toe ek menige laataand oor “chat” gehuil het oor die gat wat Nico in my binnemens gelos het. Einde 2011 toe besluit ek, vir my verjaarsdag gun ek myself twee weke vakansie in Namibië. Sommer toe al die vliegtuigkaartjie bespreek vir Februarie. Net eers seker gemaak hy kry verlof. Daardie jare was hy nog joernalis by die enigste Afrikaanse koerant in Windhoek.

My eerste indrukke van Namibië was uit die lug uit. Soos die vliegtuig laer gesak het, het die uitgestrektheid van die land my aangegryp. So ver as wat ek kon sien was dit groen en plat. Uiteindelik het ons oor berge gesirkel en laer gevlieg. Die aarde het oopgemaak en dit was oordek met fyn geel blommetjies en ‘n tipe groen bossie.

Ek was ongeduldig om deur die ellelange ry by doeane te kom, maar uiteindelik was my paspoort gestempel, my bagasie in die hand en het die deure na die aankomsaal oopgemaak. Die volgende oomblik het Ruhan vlak voor my vanuit ‘n stoel opgespring. Ons het begin gesels asof daar nie twee dekades verloop het nie, en ons het aanhou gesels tot ek weer moes huis toe gaan. Die Bothma-Bruinette familiebande nog net so sterk soos op die PUK.

Die eerste aand toe sê hy: “Ek dink ek maak môre vir ons ‘n bredie. Gaan sommer ‘n paar vriende ook oornooi.” Ek dag toe so by myself, “wat jy waar gaan kry Boet?” Op daardie stadium het ek nog in Pretoria gebly en as jy jou beste vriendin vir koffie wou sien, moes jy weke voor die tyd dagboeke vergelyk. Duidelik het ek nie die vriendelike mense van Namibië geken nie!

Die volgende middag toe sit ons die groot stoep vol. Maggies en die mense kuier en vertel stories en as een in die middel van ‘n storie is, dan besef ‘n ander een, maar Gerda ken nou nie die voorverhaal nie, dan word die verteller eers onderbreek en ek word ingelig. Ek voel sommer tuis tussen die lot wat so lekker kan storie in die mooiste Afrikaans. Die kuiergaste is eers aand se kant huis toe, en ons het net klaar opgeruim, toe kom daar weer kuiergaste vir koffie!

Ek het vinnig agtergekom, in Namibië het mens sommer baie koffieafsprake en kuiers op een dag. Jy hoef nie vooraf te reël nie, jy val sommer net in en kuier ‘n barshou.

Soos die dag wat Ruhan sê ons gaan sommer gou by sy Ma eet. Die tannie het skaapboud gaargemaak. Sommer so, vir ‘n weeksmiddag! “Algemene ding” verseker my broer my. “Almal hier ken skaapboere, ons kry die vleis goedkoop. Party dae raak ons skoon moeg van skaapvleis.”

“Skaapvleis is ‘n duur kommoditeit in die goeie ou RSA. Ons bêre ‘n skaapboud vir ekstra-spesiale geleenthede soos Kersfees” is al wat ek kon uitkry.

Op my verjaarsdag vat ons die pad see toe. So tussen al die gesels deur, het ek my verstom aan die mooi land. Eers het alles soos pure bosveld gelyk, toe voel dit vir my nou is ons in die Karoo. So gesels-gesels in sy wit bakkie bereik ons die woestyn. Die duine is onbeskryflik mooi. Soos Ruhan tereg opgemerk het: “nie een van ons twee is ‘n goed genoeg skrywer om presies weer te gee wat ons nou sien nie.”

Ons vier my verjaarsdag in Swakopmund met sushi, kabeljou, pinotage en koffie in ‘n restourant wat op die punt van ‘n pier gebou is. Bly in Langstrand in sy redakteur se vakansiewoonstel. Geniet ons self gate uit en kuier te lekker by vriende. Ja, dit wil lyk asof almal in Namibië mekaar ken, of dalk is dit net my broer… hy het ‘n geaardheid wat mense na hom toe trek.

Vir die volgende paar dae sien ek baie plekke waarvan ek nog net gehoor het. Walvisbaai, Duin 7 , Kaapkruis en Hentiesbaai. Laatmiddae gaan sit ons met ons voete in die see, en vang ‘n “tan”. Kan dit nie vroeër in die dag waag nie, die son sal jou stukkend brand. Ons dae is gevul met baie kuier, eet en lag. Ek het jare laas so baie gelag.

Vlak voor ons verder Noord ry, gaan was ons eers wasgoed by die wassery op Swakop en selfs die aksie is lekker. Ons laaste aand by die see eet ons skaapafval by twee van sy vriende. Ek het in my lewe al baie afval geëet, maar proe vir die eerste keer die brein en dis verbasend lekker. Wou eintlik gebakte skaapkop geproe het, maar Ru sê ek moenie vir my simpel hou nie. Almal weet Februarie is te warm om skaapkop te bak.

Ons het vroegoggend die pad gevat, rigting Omaruru vir twee nagte in die Omaruru Game Lodge. Die plek is op ‘n wildsplaas en daar is alles te sien van kameelperde en springbokke tot ganse, poue en ‘n cheetah. Jy word gemaan om hekke agter jou toe te maak tensy jy ‘n renoster op jou voorstoep wil hê! Die eerste middag ry ons na die chalet toe en Ruhan sê: “kyk hier ry ons nou oor ‘n rivier”. Ek sien net sand. Daardie aand begin dit toe te reën. Volgende dag toe bruis daai rivier asof hy nooit weg was nie. Die groot lag kom die tweede aand. Daar bars ‘n storm los en die krag is af. Ons braai sommer so in die donker. Aan die anderkant van die sirkel huisies het ‘n oorsese toergroep intrek geneem. Dis ‘n groot konsternasie in die donker. Uiteindelik het hulle ‘n vuur aan die gang en daar word kosgemaak. Ons sit op die donker stoep en lag, want die lot het almal koplampe aan. Lyk kompleet soos ‘n klomp meerkatte wat kort-kort kop oplig terwyl hul eet.

Van Omaruru ry ons na die Waterberg Plateau Park. Die oord is so halfpad teen die berg op geleë met die mooiste uisigte. Die bokkies wei sommer so neffens jou verby. Ons gaan swem die middag en ‘n trop bobbejane kom kuier ook in en rondom die swembad. Dit was so amper of een het my rugsak gesteel! Die rooi was seker vir hom mooi.

Naas die baie gesels en groot lag, is die Afrikaans wat mens oral hoor die lekkerste lekker saam met die dorpsname wat so oor jou tong rol… Omaruru, Karibib, Okahandja.

Te gou moet ons terugdraai Windhoek toe. Ek kuier nog vir oulaas saam met nuwe vriende by ‘n troue en toe moet ek terugvlieg. Soos Namibië al hoe kleiner word vanuit die vliegtuigvenster weet ek dat ek vir die eerste keer my hart op ‘n land verloor het. Kans gehad om weer terug te gaan en verder te verken het ek nog nie. Maar ek onthou die pienk soutkristalle langs die pad, die duine, die see, die vriendelike mense, en ek weet eendag sal ek weer daar gaan draai.

Chicky… sy was een uit ‘n miljoen

Ek het in my lewe al met baie honde te doene gehad, maar een staan uit. Haar naam was Chicky, ‘n Malamut Husky/Duitse Herdershond kruising. En haar storie vat my op ver onthou se paaie…

Dit was in die dae voor ons internet aan huis gehad het. Ek was op operasie werksoek uit, en die maklikste manier was om elke oggend vir vakante poste in die koerante te kyk. Sommer oorgeloop biblioteek toe. Nou ja, soos my aandag maar soms kan dwaal, het ek die betrokke oggend ook verby die poste die klein advertensies begin lees.

Een het my opgeval. Baba hondjies te koop. Dringend. Die ma was ‘n Malamut Husky, maar is dood kort na sy geboorte gegee het. Die adres was op ‘n plot buite Pretoria. Ek het vir Nico gebel. Op daardie stadium het ons net vir Heidi gehad. Heidi was sy hond. Ek het gevoel, dis net regverdig as ek nou ook ‘n hond kry. Wel, Nico was ‘n groot hondeliefhebber, en so het ons die pad gevat toe hy van die werk afkom.

Daar het ‘n storm gebroei, wat in ‘n goeie reënbui ontaard het teen die tyd wat ons op die betrokke plot gestop het. Weerlig het die krag uitgeslaan. Oral het lampe gebrand. Die vrou het ons ingevat en my eerste gedagte was aan die arme ma-Husky, want daar het klein hondjies van elke ras rondgehardloop. Ek het in die half donker ‘n Boerboel en ‘n Maltesie geidentifiseer.

Skielik het ek gevoel daar is iets by my voete. Ek het afgekyk op die klein hondjie wat haar bes probeer om teen my rok op te klim. Gebuk, opgetel, gesien die pa was ‘n Duitse Herdershond en summier my hart verloor. “Wat gaan jy haar noem?” het Nico gevra toe ons in die kar klim. “Chicky, sy word vernoem na my groen VW Chico” het ek geantwoord.

Ai sy was klein. Het net mooi in Nico se hand gepas. “Dink jy regtig sy is al 6 weke en dat sy self kan eet?” het ek hom benoud gevra. “Ons sal haar môre veearts toe vat” was sy antwoord. Nie gedink sy gaan daardie nag maak nie. Maar sy het. Ons is die volgende oggend met haar veearts toe, wat haar summier haar inspuitings gegee het. Sjoe, toe word sy eers siek. Vat ons haar maar na die spesialiste toe daar anderkant die Duitseskool. “Nee” het Dr. Martin kop geskud. “Die hond was nog te jonk vir inspuitings. Maar sy lyk sterk. Sy sal dit maak.”

En sy het. Aan die begin was sy so klein, sy het onder die bed se basis ingekruip. Dis toe dat ons vir haar die katbandjie met die klokkie gekoop het, sodat ons kan weet waar is sy. In die nagte het ek haar mandjie in die badkamer gesit en langs haar op die grond gaan sit en gesels tot sy slaap. Dis nie dat ons haar nie langs ons bed in die kamer wou gehad het nie, dis net dat sy Heidi so gefassineer het, dat dié haar papnat besnuif het, en almal weet baba hondjies het slaap nodig!

Ek het ook vir haar ‘n fopspeen in die hande gekry wat sy maande lank gesuig het. Ek en Chicky het ure omgespeel, met haar plastiekballetjie en haar beertjies. Ek het vir haar poppekas gehou en Chicky taal met haar gepraat. Geblaf het sy nie sommer nie. Sy het gegrom. Natuurlik het omtrent net ek haar grom verstaan. Ander was bang vir haar, maar meeste van die tyd was haar gromme maar net haar manier van gesels. Teruggepraat het sy baie.

Sy was drie maande en al mooi groot, toe sê Nico nou moet sy ook hondeskool toe. Ag liewe aarde. Dit was nou ‘n stryd. Hy het reeds vir Heidi gehad wat op daardie stadium in die gevorderde klas was, dus het ek myself in die beginnersklas bevind. Nou nie ek of my hond het baie geduld gehad nie. En sy was slim. Baie slim. So as sy nou na die derde keer alweer moet sit, dan het sy begin terugpraat as ek opdrag gee. Tussen die twee van ons het ons skool baie vervelig gevind. Na so paar maande het Nico haar maar gevat, maar sy het net so baie teruggepraat met hom!

Chicky was nie vreeslik lief vir mense nie. Daar was ‘n handvol uitsonderings. Oor my, Nico, my Pa en my nig Bessie was sy versot. So paar ander het sy aanvaar… die res hou verby.

Sy en Heidi het altyd lekker gespeel, tot die Saterdagmiddag laat. Ek was in die kombuis besig en die twee het mekaar al om die huis gejaag. Ek weet nie wat presies gebeur het nie, maar die volgende oomblik het ek ‘n hartverskeurende tjank gehoor. Storm uit en sien Chicky kan nie op haar agterbeen trap nie. Die been hang. Vat haar na die nood veeartse toe. Hulle sê hulle sal haar in die hospitaal hou, maar miskien moet ons dink aan uitsit. Ek huil die res van die naweek. Maandagoggend vroeg bel ek weer die spesialiste. “Bring haar dadelik!” Ons gaan haal haar. Sy kyk na haar been asof sy nie kan verstaan watse ding is aan haar lyf vas nie. Dr Martin en Dr Heidi het ondersoek ingestel en verklaar sy het ‘n senuwee daar by haar rug seergemaak. “Ons gaan haar hier hou en kortisoon gee. Kan julle haar elke dag vat vir waterterapie?” was hul oplossing.

So gesê, so gedaan. Vir die volgende twee weke het ek en Nico albei ons etenstye gevat, dwars oor die stad gery haar gaan haal en na ‘n vrou toe gevat wat waterterapie vir honde aanbied. Dan het Chicky haar “lifejacket” aangetrek en geswem. Die been het weer lewe gekry, sy kon weer loop. Soms was die been so bietjie styf, maar daar was niks wat sy nie kon doen nie. Natuurlik het madam met die jare besef as sy die been styf hou kry sy simpatie, veral by vreemde mense. So as iemand vir die eerste keer aan huis gekom het, dan het sy nou vreeslik gekruppel tot ek sê: “Sies Chicky, jy het netnou nog rondgehol.” Dan het sy my haar unieke glimlag gegee en heel normaal aangegaan.

Die een ding wat die juffie kon doen wat nie Heidi of Nooi kon doen nie, was om soos ‘n wolf te huil. Seker die Husky bloed in haar are. As die roomyskar verby gekom het of ‘n ambulans het sirenes aangesit, dan het sy soos ‘n wafferse wolf haar kop agteroor gegooi en gehuil. Natuurlik het die ander twee haar probeer nadoen, maar kon dit nooit regkry nie.

Sy het van kleinsaf ‘n liefde vir vrugte gehad. Jy kon ‘n nartjie hoe in die geheim probeer skil, as jy sien was sy daar om haar stukkie te kry. In die aande as ek gaan slaap het, het sy altyd eers langs my bed kom staan sodat ek haar kan vryf en nagsê voordat sy langs my bed gaan slaap het. Nooit op banke of beddens geklim nie. So het sy vir Nooi ook geleer. As dié op ‘n bank wou klim, het sy haar dadelik daar afgegrom.

Helaas, sy was maar 8 jaar oud, toe gee haar been en rug weer moeilikheid. Die dag toe ek besef sy het nie meer blaasbeheer nie en sy nie meer wou eet nie, het ek geweet dis tyd om haar na Nico en Heidi toe te stuur in die Hemel. Dis nou al 5 jaar later, maar ek mis haar steeds. My Chicky hond wat ek so na my hand, en geaardheid, grootgemaak het…

DSCN1190

 

 

Nooi die oorgroot Labrador

Ons het vier honde in die huis. Drie pekingnesies en ‘n oorgroot Labrador, Nooi. Sy is amptelik my hond. Ek en sy is al langer as 10 jaar saam. Sy word oud. Hierdie is die eerste winter wat die rumatiek haar erg begin pla. Vandag wil sy net lê. So asof die medisyne nie wil inskop nie en die koue nie uit haar bene kan kom nie. Brom en sug al die heeldag. 

Onthou nog toe ons haar gekry het. Ons was weer op vakansie in Graskop. Het reeds twee groot honde gehad. Daar was geen beplanning vir ‘n derde nie. Dag twee het ons middagete saam met vriende wat in Graskop bly. “Die dokter verkoop swart Labradorhondjies op die spreekkamer se stoep” sê Bertha. Ek sien sy het dadelik al Nico se aandag. “Ek weet darem nie” lug ek my mening. “Ons gaan kyk net” sy antwoord. 

Op die stoep twee swart bondeltjies in ‘n boks. Ek bel my Pa, “sal Pa kan hondjie oppas net tot die twee grotes gewoond aan haar is?” Pa sê ja en so het ons vir Nooi gekry. Vakansie kortgeknip en haar huis toe gevat.  Sy was woelig, slim en uitgeslape. Daardie eerste paar weke gereeld onder die staalhek deurgekruip om die wit punt van Chicky se stert te gaan hap. Chicky was ‘n Malamut Husky/Duitse Herdershond wat nie geduld het dat iemand naby haar stert kom nie. Maar Nooi was nie bang nie.

Kom een middag van die werk af. Net alles in die huis gesit, besef ons Nooi is soek. Sy was maar paar maande oud, maar reeds so groot soos die uitgegroeide Labradors by die hondeskool. Ons roep en fluit, maar niks, tot Chicky voor die toe motorhuisdeur begin blaf. “Sy is nie…” sê ek met groot oë, terwyl Nico gaan sleutels haal. Skuif die deur op, uit kom ‘n stertswaaiende Nooi, toe onder die spinnerakke, maar hoogs tevrede met haar eie avontuur. Sy het ingeglip toe ek die Fransman in die garage getrek het en lustig die agterste hoek gaan verken waar Nico ‘n paar goed opgegaar het soos net ‘n man goed kan opgaar.

Sy was nog nie ‘n jaar oud nie, kry ons haar een middag waar sy vir ons wag met ‘n  dikbek… gesig totaal geswel. Het haar toe dadelik in die kar veearts toe. “Sy moes ‘n  by probeer eet het, maar die by het eerste ‘n steek ingekry” lag die veearts en gee antihistamien. 

Saterdae het Nico haar hondeskool toe gevat. Sy het mooi en vinnig geleer. Slimmer as ons oudste hond, Heidi en baie geduldiger as Chicky. 

Vlak voor sy die trofee moes kry vir beste in haar groep, is Nico oorlede. Die hondeskool vra ek moet die geleentheid bywoon. Hulle was ook erg oor hom. Pa gaan gelukkig die oggend saam, want toe kom die anderkant van goedaardige Nooi uit. Sy wou enige persoon wat naby aan my kom byt. Ek gee toe maar haar leisels vir Pa en toe is sy weer rustig.

Sy was 5 toe ek besluit het om die stad bietjie te groet en Graskop toe te trek. Nooi het die drie jaar in haar geboortedorp baie geniet. Gereeld vir die beeste geblaf wat voor die huis geloop het, wegkruipertjie in die mistige dae gespeel en ure voor die kaggel opgekrul. 

Ek het gewonder hoe sou sy aanpas toe ek besluit om terug te trek na my ouers toe. Maar Nooi was nie gepla nie. Sy gaan waar ek gaan. Die laaste twee jaar het sy grys geword,  gehelp om twee baba pekingnesies groot te kry met baie geduld en pas sy my ma op as ek nie hier is nie. Sy blaf steeds as sy dink ek is laat met haar kos, brom as ek te laat TV kyk en loop lê in die gang as ek te veel kommentaar lewer tydens ‘n rugbywedstryd. 

Dis net die rumatiek wat begin pla. Ek weet 10 jaar is oud vir so groot hond en ek wonder of sy begin verlang om Nico, Chicky en Heidi weer te sien…

Die dag toe die hael gekom het…

Oktober 2014. Dis ‘n mooi dag op die plaas, die internet sukkel net weer en ek toer skootrekenaar en al na die groot huis toe in ‘n poging om beter sein te kry. Maak my gemaklik op die plaasstoep en gesels so tussen die werk deur met Ouma Leen.

My twee “plaasseuns” Jacques en Pieter kom maak ook kort-kort ‘n draai. Dis my tweede dag as deel van die span, en hulle help en deel raad uit so ver hulle kan. Piet en Ronel is Nelspruit toe vir aankope. Dis ‘n goeie uur en ‘n half se ry. Die volgende oomblik sê Ouma Leen, “ek dink jy moet inkom, hier kom ‘n weer aan.” Ek kyk op van die rekenaar en sien blougrys wolke wat gevaarlik vinnig naderkom. Haas my om die rekenaar af te sit en al my boeke en dinge in die huis te kry. Het ook net die sak in die sitkamer neergesit, toe begin dit reën.

Die twee jongmanne is ook in die plaashuis op soek na middagete. “Sjoe, dit reën hard” kom dit van Pieter en voor ek kan beaam, toe begin dit te hael. Ons spring om deure en vensters toe te maak. Dit hael al hoe harder. “Oh jinne, die makadamias” kom dit benoud van Jacques, maar ons kan niks doen nie. Ons kan nie eens praat nie, dit hael te hard. En dit hou nie op nie! Dit kletter op die stoep, teen die vensters vas en maak ‘n oorverdowende lawaai op die dak.

Ons staan met groot oë en kyk hoe die rose by die stoep stukkend geslaan word, en stroompies water tussen die hael op die grasperk vorm. “Dit reën in” kom dit oor die tweerigtingradio van die winkel en ontvangs se kant af. “Ons kom sodra ons kan” is al wat ons kan terug antwoord.

Uiteindelik hou dit op. Steek die son weer skaam kop uit tussen die wolke. Ons waag dit versigtig na buite om die skade te gaan betrag. Pieter bel sy pa met die slegte nuus, al die jong makadamias is van die bome geslaan. Die moerbeiblare lê stukkend op die grond. Dis die sywurms se kos. Die avo’s het ook sleg seergekry.

Onder by ontvangs hoor jy net sjloep-sjloep soos die besems water uitvee. By die sywurms is alles darem ongeskonde. Ek maak my weg tussen die lae hael deur om te gaan kyk of ons Tsanana Log Cabins nog staan. Hier was ons gelukkig. Een boom is onderstebo naby die swembad en oral lê hael en water, maar daar is nie verder skade nie. My Fransman, dis nou myse klein Renault Modus, het hael en blare op die windskerm, maar daar is nie skade nie. Die ou boom waaronder hy staan het hom goed beskerm.

In die geharwar kyk ek op en sien ‘n reënboog oor die vallei en ek weet ons sal okey wees. Die plaas is omskep in ‘n wit sprokiesland vir ‘n middag. En ja… die makadamia oes kon nie gered word nie, en ons moes maar self die meeste avo’s eet daai jaar, maar die rose het weer geblom, die moerbeibome het weer gegroei en binne ‘n paar weke was die Afrika Silks Plaas weer sy normale groen lushof.

‘n Amperse 24 uur in die bosveld

In Februarie  2014 het ek en Nurse Makgang van die Africa Silks plaas net buite Graskop in Mpumalanga die geskenk van ‘n leeftyd gekry…. ‘n nag se verblyf in Kapama River Lodge, Hoedspruit.

Ons het net na 11:00 die plaas verlaat en sommer aspris ompad gery… want dis die mooi pad, die een wat so deur Graskop koers kies al met die Blyderivier Canyon langs, verby die kolkgate en dan oor die Abel Erasmuspas deur die JG Strydom tonnel. Net na een uur is ons deur Kapama se hoofhek. Die sandpad het lank en warm voor ons uitgestrek. Ek het maar stadig gery, te bang ek sien nie die bord nie en verdwaal op 15000 hektaar bosveld. So met die indraaislag by die River Lodge toe staan daar drie mense om ons welkom te heet.

Ons ontmoet ons wildbewaarder, William en dié vat galant my motorsleutels uit my hand en verneem waar is ons bagasie. Ek wou nog kyk waar gaan hy nou met my motortjie (daai tyd het ek nog die Fransman gery) heen, maar Thomas, die assistent bestuurder, praat aanmekaar en ek besef ek moet luister. So praat-praat is ons by die imposante ontvangs in, hoor ons waar ons mag loop en nie mag loop nie en hoe die program gaan verloop. ‘n Glas yskoue vrugtesap bring lafenis en dan neem Thomas ons na ons kamer. Die man praat nog steeds, maar ek verstom my so, ek luister lankal nie meer nie. In die kamer is Nurse stomgeslaan om ons oornag tasse alreeds voor die beddens te sien staan.

Die kamer is groot met gemaklike stoele op ‘n stoepie. Voor die vensters en deure is daar gaas om die gogas uit te hou. Lugversorging hou die broeiende bosveld hitte buite. ‘n Briefie met ons name op, sit die program mooi uiteen. Ook maar goed so, terwyl ek nou nie eintlik na Thomas geluister het nie! Maar so is dit tyd vir middagete en ons kies koers na die groot restaurant waar ‘n buffet op ons wag. Ek is ‘n geswore karnivoor, Nurse eet net hoender en vis… maar beide van ons staan verstom voor die oorvloed om van te kies.

By Kapama kan jy nie wegraak in die massas nie, om elke hoek en draai loop jy jou vas teen iemand wat jou naam ken en seker maak jy is tevrede. Nou ja, die gemiddelde gas doen seker dinge soos beplan, maar ek is nou nie die gemiddelde gas nie. Na ete, besef ek my sigarette lê nog in my motor, en die mense was dan so gaaf om vir my ‘n asbakkie op die stoep te los. Probleem is, ek het geen ideë waar my motor is nie. Die man agter die ontvangstoonbank lyk bietjie verbaas toe ek my motorsleutels vra. Duidelik nie gewoond aan sulke voorbarige gaste nie. Maar ten einde laas is ek met sleutels in die hand op soek na die parkeerplek. Gelukkig merk ek ‘n man in uniform en kommandeer hom op om my by die motors uit te bring. Gifstokkies in die hand, kry ek toe darem uiteindelik ook rus op die stoep van die kamer.

Wou net lekker lui raak, toe jag Nurse my aan om vir die koffie-en-koek-sessie. Toe die meeste gaste verby ons begin stroom val ons sommer agter hulle in. Voor die ingang staan daar ‘n plaat wildbesigtigings voertuie, almal met ‘n menigte lawaairige toeriste op. Ek sien nie vir William tussen die skare nie. Gelukkig tree een van die spoorsnyers na vore. Hy stel homself voor as Willis en beduie ons moet solank op die voertuig klim. Die voertuig was oorspronklik seker ‘n Toyota Landcruiser, maar die bakkant bestaan nou uit drie rye sitplekke van verskillende hoogtes. Geen dak nie en voor op die enjin kap is daar nog ‘n stoel vasgemaak, wat ek genadiglik besef is vir die spoorsnyer, want ek sien al hoe val ek neus eerste in olifantmis as daar skielik rem getrap word.

Toe Willis nou beduie ons moet solank klim, toe wil-wil ek so bietjie benoud word, want die eerste vastrapplek is hoog en nou en dan is daar nog een, bietjie hoër. En dis vir daardie trappie wat ek sal moet  mik, want so sit daar reeds ‘n meisie in die eerste ry. Ek het nie vrees vir hoogtes nie, dis net my vertroue in die op en afklim het in die 1980s ‘n knou gekry, toe ek ietwat ongrasieus van ‘n Weermag Buffel afgespring het. Mag dalk nie vreeslik klink nie, maar ek was 17 en daardie jare was enige man in ‘n uniform nog vir my mooi…

Ek sien Nurse raak ongeduldig en weet as ek nie nou vinnig trap nie, weet die hele plaas na dese Gerda is bang. So haal ek maar diep asem, trap hoog en kry uiteindelik my sit. Ook net betyds want William kom aangeloop. Hy lyk verlig om ons te sien, blykbaar moes ons vir hom by die koffieplek gewag het.

Ons is net drie gaste op ons voertuig en William vat die sandpad op soek na wild. Hy bly nie lank op die grootpad nie, sommerso die tweede draai is hy op ‘n tweespoorpadjie die bosse in. Kort-kort lyk dit soos ‘n omgekeerde Meksikaanse Golf as Willis of William hand in die lug steek om teen oorhangende takke te waarsku en ons drie dan afduik om dit te vermy.

‘n Spannetjie sebras bondel in die veld. Een gaan staan astrant in die middel van die pad, asof hy wil seker maak ons spandeer genoeg tyd daar en jaag nie net agter die groot vyf aan nie.

Haastig is ons nie, al drie van ons geniet die rit op die oopbak terdeë en Willis en William vermaak ons met allerlei staaltjies oor die bos en diere. Ons proe hoe smaak ‘n geel maroela vars van die boom af en Nurse lag lekker toe hulle ons vertel watter blare mens in geval van nood vir toiletpapier kan aansien en watter jy liefs moet vermy.

Ons sien ‘n verskeidenheid diere van rooibokke en kameelperde tot by ‘n groot trop buffels. Met sonsondergang stop ons langs een van die vele watergate. Die manne haal ‘n tafeltjie te voorskyn wat hulle opslaan kompleet met ‘n tafeldoek en verder dek met neute, biltong en droeëwors. Die toeris van Suid-Amerika loer eers versigtig na die biltong, maar toe sy eers hoor dat dit net beesvleis is, eet sy lekker saam. Nadat almal se dors ook geles is, bestyg ons weer die voertuig. Teen die tyd word dit vinnig donker en algou word die hele nagruim omtower tot ‘n skouspel van sterrelig. Ek hoor die roep van ‘n naguil en asem die reuk van veld en diere diep in.

Na ons veldrit is dit tyd vir ‘n buitelug aandete. Rondom ‘n kampvuur is ons bederf met ‘n verskeidenheid disse van rooibokpastei tot by beesstert bredie en gebraaide snoek. So net voor nagereg, toe begin die personeel skielik sing. Ek sit rustig, my verjaarsdag ‘n paar dae terug vergete, tot die groep mense langs ons tafel tot stilstand kom, kompleet met ‘n sjokolade koek vir een met ‘n brandende kersie op. Ek word in drie tale toegesing, en bloos tot agter my ore. Nurse dink dis baie snaaks en sing sommer saam. Gewoonlik laat sulke dinge my onder die tafel inkruip, maar die mense sing regtig mooi en die seënwense wat hulle in Shangaan sing, bring ‘n knop in my keel.

Ons gaan slaap redelik vroeg, want hier moet mens vroeg wakker wees om wild te gaan kyk. Die volgende oggend wil-wil die son net begin kop uitsteek, toe ons wildrit begin. William is duidelik ‘n man op ‘n missie en vat redelik vinnig koers in ‘n rigting in. Ons hanteer die koue wind wat ons hare deurmekaar krap sonder kla en word binne minute beloon as William kry waarna hy op soek was… die renosterkoei en haar kalfie wei rustig in die bosse. Ons verkyk ons aan die statige diere wat so lui-lui loop en vreet. Die kameras klik aanmekaar. Dan draai die ou grotes weg, dieper die bos in en ons vat ‘n nuwe koers. Willis wys ons leeuspore in die sand. Nurse sit sommer bietjie meer regop, dis haar groot droom, om ‘n leeu te sien… ‘n regte een en nie net op TV nie.

Skaars ‘n kilometer verder word haar droom bewaarheid… ‘n ou groot maanhaar en wyfie lê rustig en slaap slegs ‘n paar meter van die pad af. Die mannetjie lig sy kop en bekyk ons soos ‘n koning wat lastige onderdane te woord staan. Geduldig wag hy tot ons kameras geklik het voordat hy verder slaap. Die wyfie maak nie ‘n oog oop nie, duidelik nie lus vir geselskap na ‘n lang nag van jag nie.

Ons spandeer kosbare minute langs die leeus voordat nog ‘n voertuig opdaag en ons verder ry.  Aan die oorkant van die rivier kom ons af op ‘n grasvlakte waar bokke, blouwildebeeste en sebras saamwei. Die twee manne dek weer die tafeltjie en die keer kry ons koffie en beskuit terwyl ons bietjie bene rek. Ver oor die vlakte kom kameelperde aan. Grasieus beweeg hulle nader aanmekaar en ek wonder of kameelperde ook familiebyeenkomste het, of dalk ‘n bosberaad. Om so oor die vlaktes te kan kyk en soveel diere te sien is ‘n voorreg, maar ook hartseer. Om te dink eenmaal het al Afrika se velde so oorgeloop van wild…

William kies stadig maar seker weer koers kamp toe, ons verkyk ons aan ‘n trop blou apies wat in die bome speel, ‘n verskeidenheid van voëls en groot spinnerakke wat blink in die oggendson.

Om ‘n draai word ons verras deur olifante. ‘n Jong bulletjie staan nader en probeer hard om ‘n tak van ‘n jong boompie af te breek nes sy ma gedoen het. Wanneer die matriarg na ‘n rukkie haar familie bymekaar maak, drentel hy soos ‘n stout kind agterna. Wanneer sy vir hom trompetter uit die bosse, kry die knapie skielik lewe en draf vinnig after die res van sy familie aan.

Na die vroeë oggend wildrit, is dit tyd vir ontbyt en daarna moet ons afskeid neem van Kapama, sy diere en mense. Wel dit was die ideë… behalwe dat ek bietjie rigtingbeduiweld is. Ek vat die sandpad terug hek toe… en ons ry… en ry… en ry. Die pad het nie gister so lank gevoel nie. Maar ons ry agter ‘n veldwagtersbakkie met toeriste so ek is redelik gerus dat ons nie leeukos gaan word nie.

Ten eindelaas stop die veldwagter en sy spoorsnyer kom vra wat maak ons nou eintlik. Nurse beduie vir hom in sy taal dat ons verdwaal het. Is toe dat ek hoor ons is nou oppad na die lughawe toe, heel in die verkeerde rigting. Die veldwagter beduie ons moet maar after hom bly aanry en vir hom by die hek wag. Ek doen toe so…. Tot by die hek. Veldwagter gaan deur, maar die hekwag kry amper ‘n oorval oor die privaat motor wat skielik voor hom staan. Hy wil niks hoor nie. Hy weet net ons mag nie daar wees nie en ons mag nie daar staan nie.

Tussen al die geraas verskyn ‘n bekende gesig skielik langs my motor… William, ons veldwagter. Hy lag net toe hy hoor hoe ek in my eie huis sal verdwaal as ek nie oplet nie. En die man maak ‘n plan. Druk knoppies op sy selfoon, kry die hekwag stil en skryf my besonderhede af. En toe… seker ‘n eerste in die geskiedenis van Kapama, toe maak hulle die “verkeerde hek” vir ‘n privaat voertuig oop. “Links Gerda, draai links, deur die volgende hek en dan regs Hoedspruit toe,” gee William nog vir oulaas instruksies om seker te maak hy moet my nie twee keer op een dag kom red nie.

In die motor heers daar stilte tot ons uiteindelik op die R40 regs draai Hoedspruit toe, toe bars ek en Nurse uit van die lag. Ons bly lag oor die groot verdwaal, oor die mooi wat ons gesien het, oor die baie eet, oor die mense wat vir my gesing het. En dis lekker. En sommer so vir die lekker stop ons by die Bourke’s Luck kolkgate op pad Graskop toe. Verkyk ons aan die water wat so “draai en draai doer onner” soos Nurse sê, neem foto’s en eet roomys…. twee mense van verskillende agtergronde, ouderdomme en kultuur, maar met gedeelde herinneringe van ‘n onvergeetlike amperse 24 uur in die bosveld.