Dit was toe ‘n goeie idee… (‘n kortverhaal)

20150828_151558 - Copy

Rina is vanoggend op ‘n missie. Sy stap vasberade die hospitaal binne. Dis besoektyd en die ingang en koffiewinkeltjie is ‘n hele bedrywigheid van mense. Sy baan haar weg om ‘n man met ‘n ruiker blomme onbeholpe in sy hande, sy vrou langs hom in ‘n rolstoel, pap babatjie in die arms. Hulle is op pad huis toe.

Vir ‘n oomblik wens Rina sy kon liewer huis toe gaan, ‘n hospitaal is nou nie eintlik haar gunsteling plek nie. Maar Sondag het die pastoor so mooi gepreek oor naasteliefde en omgee vir die eensames, dat sy haar naam opgegee het. As vryskutskrywer het sy meer as genoeg aftydjies deur die dag wat sy beter kan benut. Ai as sy net nie so bang was om sommer so met vreemdes te praat nie. Miskien moet sy liewers eers weer oor die saak gaan dink. Dan sien sy die ander dames van die kerk voor die groot saal wag. Hulle lyk almal heelwat ouer as sy. Haar moed begewe haar. Die kamer regs van haar lyk leeg en sy loop sommer daarin.

“En nou Juffie, as jy so vinnig hier instorm?” praat ‘n diep mansstem skielik agter haar. Rina kyk verskrik om. In die bed agter die deur, lê ‘n ouerige man met witgrys hare en ‘n weglêsnor haar ondersoekend en aankyk. Sy stem het kwaai geklink, maar dan sien sy die vonkel in sy helder blou oë.

“Jammer. Ek het gedog die kamer is leeg. My naam is Rina en ek is eintlik veronderstel om op hospitaalbesoek te wees, maar toe raak ek bietjie benoud. Die ander vroue lyk so formidabel”, verduidelik sy vinnig.

Die man in die bed begin lag en dan moet hy sy ribbes vashou as ’n bronchitis hoes hom oorval. Rina staan benoud nader, sy hoop nie die oom kom nou iets oor nie.

Hy kry sy asem terug en vee oor sy weglêsnor. “Toemaar kind ek verstaan, my oorlede vrou het ook altyd hospitaalbesoeke gedoen. Dit vat nogal aan ‘n mens. Maar kom sit, dan kan jy altyd na die tyd sê jy het by my besoek afgelê. Ek is Oom Ben Gouws, afgetrede kolonel, lief vir tuinmaak en glad nie geneë om hier opgesluit te wees nie.”

Vir ’n oomblik lyk hy vir Rina baie bekommerd. “Is daar iets waarmee ek kan help Oom?”

“Ek is net bekommerd oor Katryntjie. My hondjie. Grieta en Servaas van langsaan het gesê hulle sal ‘n ogie hou, maar ek is so bang hulle vergeet.”

Oom Ben se oë blink toe hy vir Rina vertel van sy hondjie wat sy enigste kleinseun vir hom ‘n paar weke terug gebring het. Dis ‘n klein pekinees. Oom Ben bly in een van die eenslaapkamer huisies agter die bejaardesorgsentrum bo teen die berg. Dis nie ver van Rina af nie en sy belowe die oom sy sal gaan kyk hoe dit met Katryntjie gaan.

Sy ry direk van die hospitaal af na die Lewensligoord vir bejaardes. Net toe sy uitklim, maak ‘n ouerige vrou huisie nommer drie se deur oop. “Middag Mevrou. Ek is op soek na Mev Grieta Greeff. Oom Ben Gouws het gevra ek moet kom hoor hoe gaan dit met Katryntjie.”

“Ek is Tannie Grieta Greef. Ben Gouws sê jy? Ai jy kom asof die Liewe Here jouself gestuur het”. Rina hou sommer dadelik van die gryskop, moederfiguur wat vir haar die deur oophou om in te kom.

Sy kry net kans om haar naam te gee, toe praat die tannie alweer in die rigting van die kombuisie. “Servaas, hier stap die antwoord op ons gebede nou net by die deur in. Bring vir Katryntjie!”

“Vanoggend toe bel Paul van Susan ons uit Bloemhof uit. Die babatjie het besluit om vandag te kom en dis ons eerste kleinseun. So ons moet dadelik Bloemhof toe, want die arme Paul sit nou alleen met klein Grietatjie. En hoe nou gemaak met Katryntjie? Die arme Ben, en sy kinders bly ook ver.”

Rina verstom haar aan Tannie Grieta wat eenstryk deur praat, terwyl sy ‘n baksel beskuit uit die oond in ‘n blik pak en nog haar man ook tussen in opdragte gee.

Die volgende oomblik kom ‘n wollerige gevaartjie die kombuis ingegly tot teenaan Rina se been. Katryntjie lyk asof sy uit twee bolle wol aanmekaar gesit is met twee blinkswart klippies vir ogies. Haar plat neusie raak heeltemal weg tussen al die hare. Sy hap-hap na Rina se tone en val dan plat op die vloer neer, totaal uitgeput na haar vreeslike aanloop tot in die kombuis.

Rina lag en tel die hondjie op. Dan sien sy Oom Servaas in die deur staan met die hondemandjie en hondekos in sy hande. Skielik dring dit tot haar deur, hulle wil hê sy moet na die hond kyk! Sy wil eers protesteer, maar besef dan sy het nie regtig ‘n keuse nie.

Voor sy behoorlik tot verhaal kan kom is sy en Katryntjie, hondemandjie, speelgoed, hondekos en al op pad na haar huis. By die huis snuif-snuif haar eie honde aan die klein hondjie en dan gaan lê hulle weer in die son. Rina laat maar vir Katryntjie by haar voete speel, terwyl sy gou ‘n artikel vir die tydskrif klaarmaak.

Die heel oggend knaag Oom Ben se beeld aan Rina se hart. Hy verlang so na Katryntjie, en na wat sy vanoggend kon aflei sal hy seker nog tot die naweek in die hospitaal moet bly.

Sy oorweeg dit om ‘n foto van Katryntjie met haar selfoon te vat sodat sy dit darem die middag vir Oom Ben kan wys. Maar dan kry sy ‘n blink idee… as sy dit net kan maak werk!

Toe besoektyd aanbreek stap Rina vir die tweede keer die dag die hospitaal binne. Die keer is sy gewapen met haar gymsak en ’n papiersak met ’n tydskrif en lekkernye vir haar nuwe vriend. Oom Ben glimlag breed toe hy haar sien.

“Ek het vir Oom skoon nagklere gebring”, praat Rina hard in die rigting van die deur en trek dan die gordyn om sy bed toe. Oom Ben lyk vir ‘n oomblik verward, maar Rina knipoog vir hom en sit haar gymsak op die bed neer. Die sak is nie heeltemal toegerits nie. Sy maak die sak heeltemal oop, loer ‘n slag oor haar skouer en haal dan versigtig die slapende bondeltjie uit die sak.

Oom Ben se gesig verhelder. “Katryntjie! Rina hulle sal vir jou hier uitgooi, hond en al”, raas hy kamptig, maar Rina sien die lagduiweltjies in sy oë. Katryntjie maak haar swart ogies oop en waai haar wollerige stert toe sy haar baas herken.

“Oom moenie haar te opgewonde maak nie. Ons wil nie hê sy moet begin blaf of iets nie! Ek het haar kos gegee net voor ons gery het, sy behoort nou weer te slaap.”

Oom Ben lyk sommer tien keer beter as vanoggend. Hy streel oor Katryntjie se kop totdat sy weer aan die slaap raak. Rina versteek die hondjie weer versigtig tussen die klere in die sak en trek die gordyne om die bed weg.

Ook net betyds, want die volgende oomblik stoot die verpleegsters nog ’n pasiënt die kamer binne. “Ek sal weer môre vir Oom skoon nagklere bring.” Oom Ben lag en knipoog vir Rina toe sy by die deur uitloop. Hospitaalbesoek was toe nie so slegte idee nie, maar sy dink na die week sal sy haar af tydjies by Lewensligoord se baksteenhuisies spandeer.

 

 

 

 

3 thoughts on “Dit was toe ‘n goeie idee… (‘n kortverhaal)

Lewer kommentaar