Ons beplan ‘n groot okkasie

Vroeg een Sondagoggend kry ek die oproep. “Wil jy saamkom op die Swart Skaap komitee beplanningsnaweek?” Nou kyk die Swart Skaap Naweek gebeur elke jaar. Dis wanneer die familie van Oupa Jakob Swart met al die vertakkinge bymekaarkom vir groot kuier en ‘n skaapbraai. Amptelik is ek nie deel van die familie nie, maar ja, terwyl die Swarte van Modderspruit duskant Graskop my al so half en half as familie aangeneem het, kan mens seker teen die tyd sê ek is so van ‘n kant af in die familie ingeplant.

‘n Naweek weg klink vir my na ‘n goeie plan en so beland ek toe saam met Ouma Bella, Hans en ‘n hele span neefs en niggies op Kruisrivier Kampterrein om Swart Skaap 2018 te beplan. Dis ‘n vrolike klomp bymekaar. Daar word stories vertel, grappies uitgeruil, geterg en beplan alles in een asem. Ek wou nog wonder wat die wat ek nie ken nie nou sal dink wat maak ek daar, maar blykbaar was ek die enigste een wat daaroor gewonder het. Ek is deel van hulle en basta met die res.

Die aand het al begin ou bene maak toe Hans verklaar dis tyd vir aandete. Hy gaan vetkoek maak. Die jonger manne het die kampvuur aan die gang. Dis nie regtig koud nie, maar mens moet ‘n vuur hê anders kan mens nie lekker gesels nie. Teen die tyd wat ons eet, het ek bykans al die vertakkinge van die familie onder die knie en weet ek alles van die bouprojekte wat hulle nog op die kampterrein gaan doen.

20180310_101733

Die plan was om Saterdagoggend half vroegerig in beweging te kom vir ontbyt. Die eerstes van ons het redelik vroeg al om die amper gestorwe kampvuur begin saamtrek. Koffie met kondensmelk het ons wakker gekry en algou was ons weer aan die beplan vir die groot naweek in Julie.

Ouma Bella kon nie Vrydagaand al by ons aansluit nie, maar sy laat weet vroeg een van die kleinkinders kan haar maar op Groblersdal kom haal. Intussen sluit die Jordaans ook by ons aan. “Ons gaan nou ontbyt maak” verklaar Hans. “Is amper 11 uur” sê Rita, “die kerkmense kom nou vir die vergadering oor die bouprojekte.” Ons het intussen almal hot cross buns verslind en die hongerpyne is nie so kwaai nie. “Ons het wors saamgebring” kom dit van Abrie. “Dan braai ons wors vir brunch” verklaar Hans en keer vir Belicia voor wat wil ry om vir Ouma te kry. “Bring hotdogbuns saam”.

Die res van ons besluit nou gaan ons eers die kampterrein beloop om te kyk waar die groot naweek se skattejag gaan plaasvind. Gesels-gesels verby die eerste hindernisbaan en die swembad tot by die foefieslide in die bosse. “Werk die ding nog?” wil Jan-Willem weet. Dis al wat Dewald nodig gehad het om te bewys dat die foefieslide nog werk. Binne sekondes is hy op die sitplek en daar gaan hy die dieptes af. “Kry my weer bo, ek gaan nie oploop nie” roep hy van onder af. Daar is ‘n groot katrol en Johan en Bella maak werk daarvan om die man weer bo te kry. Hulle kry hom darem in een stuk bo. Klein Jaco van Abrie wil toe ook eers die ding beproef. Hy gaan met groter spoed af en dis ‘n hele oefensessie om hom weer bo te kry. Albei die brawe manne se bene is stukkend gekrap van die latana wat onder in die sloot groei.

“Ons moet na die ander hindernisbaan gaan kyk” stel PJ voor en ons koers verder die veld in. Stop eers om te kyk hoe swart miere ‘n paadjie deur die gras maak. ‘n Gat in die grond trek ons aandag en die potensiaal om dit in ‘n “buite toilet” te omskep vir die grap ontgaan ons nie.

20180310_113559.jpg

Nog houtstellasies lok ons nader. Dis van daai hoë gedoentes waarop mense moet klim en loop en kruip in ‘n poging tot spanbou. Die meeste van ons staan maar so twee treë terug en beskou die gevaarlike affêre, maar Dewald reken hy gaan dit uitprobeer. Loop hy vir hom vas op die tweede stellasie. Daar staan ‘n leer, maar daarvoor is hy nou nie te vinde nie. Hy vat toe weer die pad oor die gevaarte soos hy gekom het. Tot by die laaste stuk. Nie lus om weer oor die toue te sukkel nie, besluit hy, hy gaan sommer in ‘n boom klim en dan afkom. Ons protesteer. “Die boom is sterker as wat dit lyyyyyyyk….” en toe breek die tak en hy beland op die grond. Gelukkig nie seergekry nie.

Ons het al ver geloop, toe die bakkie verbykom. “Dis Jurgens (die man van die kerk aan wie die kampterrein behoort), “ons moet eers gaan vergadering hou” sê Hans. Ons loop al die pad terug tot by die groot stoep voor die kombuis. “Ek is bly om julle te sien” groet Jurgens, “maar ek gaan nou eers die vrieskas regmaak”.

“Dan loop ons maar weer” neem ons die besluit en voeter weer deur die lang gras. Niemand is 100% seker oor waar die paadjie na die hindernisbaan veronderstel is om te wees nie. Ons loop nog tweekeer verkeerd voordat ons dit uiteindelik kry weggesteek tussen die bome langs die rivier. ‘n Mens kan sommer sien hierdie is nie ‘n baan vir elke Jan Rap en sy maat nie. Hier moet jy kreatief kan dink en baie fiks wees. Dit keer natuurlik nie die manne nie. Algou hang een soos ‘n vink aan ‘n motorband, terwyl ‘n ander vir lewe en dood aan ‘n tou klou in ‘n poging om oor ‘n stomp ‘n entjie van die grond af te loop. Hulle waag dit selfs om die hindernis oor die rivier(tjie) aan te durf. Gelukkig maak hulle dit almal sonder om te val, want daardie water het gelyk of dit groter siektes as die op polonie kan kweek.

Die son bak warm as ons uiteindelik terugstreep na die stoep toe. Halfpad demonstreer Hans eers hoe werk assegaaigras. Wanneer mens die grassie gooi, trek dit met ‘n sierlike boog deur die lig, en pen stewig vas in die teiken, wat op daardie oomblik PJ se arm was.

Op die stoep sit Ouma Bella, Belicia en Bella rustig en gesels. Bella se vingers is vlytig besig met die kombers wat sy hekel. “Wanneer het jy ons verlaat?” vra ek verbaas om haar daar te sien. Netnou was sy dan nog saam met ons by die foefieslide. “Ek het agtergebly toe julle hindernisbaan toe is” lag sy “hierdie kombers moet klaar.”

Inge het aartappels en eiers aan die kook op die stoof. Dis vir die aartappelslaai wat ons saam met middagete of is dit nou aandete gaan eet. Rita begin ‘n uie en tamatiesmoor aanmekaarslaan en die manne stook alweer die vuur. Ek beloer my horlosie, dis al amper twee uur. Wonder of hulle sal agtergkom as ek net so bietjie wegraak vir ‘n middagslapie? Maak toe die fout om eers voor my kamer op die bankie te gaan sit. Net gesit toe bulder Hans van die vuur se kant af. “Gerda!”

Blyk toe die vergadering oor die bouprojekte gaan begin. Ek vermoed dit grens aan kindermishandeling, maar ek sê liewer niks. Gelukkig is dit toe heel kort, kragtig en interessant. Toe die manne begin rondloop om te bepaal waar presies die muur gebou gaan word, gaan loer ek by die kombuis in. Tref vir Jan-Willem en Chrisna voor die bak gaar aartappels aan. Dit moet geskil word. Lyk vir my na genoeg om ‘n weermag kos te gee, veral as jy die hoop gekookte eiers byreken. “Ek sal die eiers solank afdop” bied ek aan. “Eina” skree JW toe hy ‘n warm aartappel probeer sny. “Wag, kom dop jy die eiers af, ek sal die aartappels skil. Ek en Ouma Bella ken van aartappels skil” lag ek. “Ja” stem Ouma Bella saam “ek en Gerda het lekker aartappelslaai op Piet-hulle se plaas gemaak in Desember.

“Is hierdie nou vir aandete?” wil ek weet, want ek sien dis anderkant 4 uur. “Dis middagete” kom dit van Rita. Sy bekleë die “spyseniere” portefeulje op die Swart Skaap komitee. (En nee daar bestaan nie so woord nie, dis een van Hans se nuutskeppinge). “Ek voel skoon skuldig omdat ek julle nie betyds kos gee nie” lyk sy heel bedremmeld waar sy die rissies in die sous inroer. “Nonsens” lag ons haar af. “Hierdie gebrek aan skedule is ons eie skuld. Die tyd hardloop onder ons uit.”

Laatmiddag daal daar vir ‘n wyle stilte neer soos almal weglê aan die worsbroodjies en sous. Maar net vir ‘n baie kort wyle, toe begin die stories, lag en gesels weer. Die son het al vergete gaan rus, toe onthou Hans ons het nog nie klaar beplan nie. Hy sit sommer die ondervoorsitter, Dewald, aan die woord. Die arme man moet toe nou die vergadering lei en terselftertyd die hoenderpotjie aan die gang kry. Vir ‘n buitestaander sou dit dalk na ‘n deurmekaar affêre gelyk het, so met almal wat rondskarrel om die vuur, Bella wat nog ‘n ry of drie probeer hekel, die rokers wat net een aansteker tussen hulle het en Rita wat paraat met haar papier en pen op die skoot sit.

Maar so word die agenda kafgedraf, besluite geneem en mense ingelig. Voor ons geestesoog kan ons al sien hoe lekker kuier die mense hierdie jaar by Swart Skaap. Tussen komiteelede se verslae duik daar melktert en koek op om Bella en Inge se onlangse verjaarsdae te vier. “Ons moet vir hulle sing” het iemand ‘n blink idee, maar so hou die gesels en geterg nie op nie. Totdat Dewald maar van ‘n kant af skielik wegval met “Lekker verjaar…”

Hier by 11 uur is die pot reg en die beplanning word vir eers stopgesit. Almal skarrel om hul borde te kry wat gelaai word met Ouma Bella se kaboemmielies, aartappelslaai en hoenderpotjie. “Maak toe julle oë, ek gaan bid” kom dit van Dewald se kant af. Van ons sit by die tafels op die stoep, ‘n paar staan om die vuur en die ander skarrel nog in die kombuis. Net die om die tafel en by die vuur het sy eerste oproep gehoor. Ons vat hande en sit geduldig en wag. Dit vat ‘n rukkie om die lot in die kombuis ook tot bedaring en buite te kry. Ek skuif my regterarm net so bietjie want dit wil-wil begin kramp so oor die tafel. Daar is stilte. Dewald begin bid en die man kyk of hy die rekord kan slaan vir die langste tafelgebed in Afrikaans. Eerlik. Opreg. In dankbaarheid. Soos dit moet wees.

Na ete is nog net die naguile om die vuur. Hans braai vir ons malvalekkers en ons lek die wit en pienk taai van ons vingers af. Ek luister na hul stories. Familie stories. Mooi stories. Lag stories en hier en daar hoor ek die verlange deurbreek na mense wat nie meer daar is nie.

Sondagoggend moet van die mense vroeg vertrek. Die res van ons maak ‘n laat ontbyt van die naweek se oorskietkos. Ons begin al dink aan inpak, toe ruk Hans skielik sy skootrekenaar uit en maak dit staan op die tafel. “En nou?” vra ek verbaas. “Ons moet nog die uitnodiging se bewoording doen” verklaar hy. Algou toe sit almal om die tafel. Hans is ‘n meester met woorde en die skeppingsproses mag nie misgeloop word nie. Ons gee ons insette, stry oor die spelling van die woorde en lag aanmekaar. Sommer omdat die lewe lekker is en al die stres en geite van die werklike lewe vir ‘n wyle vergete is.

Toe ek die langpad huis toe vat wonder ek of die klomp besef hoe gelukkig hulle is om in vandag se tye nog sulke sterk familiebande te hê. Ek sou wat wou gee om elke jaar my familie so bymekaar te kon trek, maar ja, die lot is mos wydverspei oor die aarde, ten minste het ek die eer om deel van hierdie kraal se skape te kon word.

Advertisements

6 thoughts on “Ons beplan ‘n groot okkasie

  1. So word die land se probleme om ‘n braaivleisvuur opgelos.
    Gerda, doen daai ding. Reël ‘n familiesaamtrek. Kry ‘n datum, ‘n plek, en dié wat kan, kom. Ons familie doen dit so elke 3 of 4 jaar en dis elke keer só lekker.

    Liked by 1 person

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

w

Connecting to %s