Ons is reg vir die ‘Royal’ troue.

Ek en Ma hou van die Britse Koninklikes. Ons mis nie ‘n troue nie, en daar was lanklaas een… So die opgewondenheid is groot om Prins Harry en Meghan se troue te kyk.

Gister, terwyl ons in die semi-koue swembad die nodige oefeninge doen soos voorgeskryf deur ons biokinetikus, sê ek “ons sal iets lekkers moet kry. Dis darem ‘n troue.”

Ma stem saam, maar wat? Ek spring nog so paar maal op en af tot ek die blink plan kry. “Ons maak ‘snacks’ soos met Oujaar” verklaar ek. “Dan moet ons gaan crackers koop” sê Ma.

“En van daardie klein worsies wat ons in bacon kan toedraai” raak ek entoesiasties. (Daar was nie tyd om te dink aan die keurige Afrikaanse woorde soos kraakbeskuitjies en spek nie.)

“Jou Pa kan frikadelletjies bak” borduur Ma voort op die spyskaart. Net daar is die oefensessie sommer ook klaar. Ons spaander koulik uit die swembad, trek aan in ‘n rekord tyd en vat die pad President Hyper toe.

Kom by die huis. Pa staan in die voortuin langs die grassnyer. Hoed op die kop, hy lyk beswaard. “Kom help dra” roep Ma hom nader. “Nou hoekom sal ek nou julle ou goed wil dra?” brom hy terug, maar staan darem nader. “Nie ons gymsakke nie, ons was by President. Ons gaan môre snacks maak vir die troue” praat Ma hom dood.

“Die krag is al meer as ‘n uur af” gee hy ons die rede vir sy beswaardheid. “Die troue is eers môre” sê Ma. “Het jy gebel oor die krag?”

So is ons die res van die dag sonder ligte, maar aand se kant kom dit aan en vroegdag Saterdag is die elektisiteit nog met ons. Ek doen haastig werk wat gister al moes klaar. Dan sak ons almal op die kombuis toe. Ek begin worsies en uitjies sny vir die stokkies. Ma draai worsies toe in bacon en Pa meng die maalvleis. Dit gaan verbasend goed. Gewoonlik is daar chaos as ons drie saam in die kombuis wil werk. Teen 10 uur is alles gereed vir die groot troue. Ons kyk solank die voorprogramme. Pa wil nog weet van die rugby… “Leeus speel eers na 5. Bulle eers vannag. Ons gaan heeldag troue hou” verklaar ek plegtig.

Hy verstaan nie heeltemal hoekom ons so gaande is oor ‘n troue nie. Ek ook nie. Ek onthou net ek en Ma en ons huiswerker het destyds gekyk toe Prins Charles met Lady Diana getrou het en van toe af is dit tradisie. 😊

Lewer kommentaar