Toe moet ek taxi speel

Sondagaand herinner Ma my: “Jy weet my kar is stukkend. Môre moet die kleintjies gaan vir ‘n bad. Ek moet my bloed laat trek en ek wil apteek toe gaan.”

Die kleintjies is nou die drie pekinese, Baba Bessie, Her Royal Naughtyness Heidi en die ouman, Trompie. Ek sê ja en wonder hoe so by my enigheid hoe lank die storie nou gaan vat?

Volgende oggend is dit ‘n hele opgewondenheid in die huis. Bessie wil nie opstaan nie. Heidi hardloop buite rond. Trompie spring soos ‘n jong hondjie al voor die voordeur rond. “Nee, Trompie” sê Ma “jy weet jy gaan eers later.”

Ek gaan trek die Yankee nader. Ma kom aan met Baba Bessie in die arms en Heidi wat vooruit hol. Albei land op die voorste sitplek. Ma gaan maak die hek oop. Ek sukkel om Bessie van my skoot af te hou met die uitryslag.

Dis nie ver na die hondesalon toe nie, maar dit voel soos ‘n ewigheid. Bessie bewe so groot as wat sy is, mens sou sweer sy gaan slagpale toe. Heidi maak ‘n geluid tussen ‘n tjank en ‘n halwe blaffie en van stilsit op Ma se skoot is daar nie sprake nie. Elke keer as ek ratte wissel moet ek net keer of ek knyp ‘n wit stert vas.

Uiteindelik is ons elkeen met ‘n pekinees onder die arm by die plek in. Soos ek uitloop probeer ek net hare afvee, maar dis winter en dis die hoëveld, statiese elektrisiteit tel teen my. Ek gee op. Ons draai by die bloedtrekplek en die apteek. Ek kry uiteindelik my sit agter die rekenaar. Is net deur die hele proses om alles aan te kry en oop te maak, toe sê Ma: “Ons kan die kleintjies gaan haal en vir Trompie vat.”

Sit weer alles af. Gryp beursie en sleutels en baan my weg na die Yankee toe. Dié het ek sommer halfpad in die oprit gelos en verklaar hy kort bietjie vitamiene D. Ma stap hek toe met Trompie stewig onder haar arm vasgeklem.

Die oomblik toe hy in die kar op Ma se skoot sit begin hy te “gesels”. Hy blaf, hy tjank, hy trippel op haar skoot… in kort hy maak ‘n helse lawaai! Ek trap die petrol bietjie dieper in. “Snoekie het net so tekere gegaan as sy moes ry” sê Ma. Ek weet. Snoekie, nou ook al oorlede Snoekie, was ‘n pekinees van ‘n ander kleur. Die eerste en enigste keer wat geduldige Nico ooit in sy lewe ‘n spoedkaartjie gekry het, was die slag toe hy Snoekie vir Ma by die kennels in Pretoria gaan haal en teruggebring het Vanderbijlpark toe!

Trompie bly genadiglik stil toe Ma hom invat. Net lank genoeg dat sy vir die vrou kan vertel hoe hy geskeer moet word. Anders as die twee meisies, het hy baie dikker en harder hare. Lyk toe mos kompleet soos ‘n weerwolf. Ok, ‘n baie klein en ronde weerwolfie!

Soos die man hom wegdra, begin hy dadelik weer luidkeels te kommunikeer. Intussen bring hulle vir Heidi en Bessie uit. Die twee is blink gewas, en daar is los hare galore! Ek, Ma en die Yankee is binne sekondes toe onder lang wit hare. Ma vertel die twee hoe mooi hulle nou lyk en van die stukkie hoender wat sy spesiaal vir hulle gebêre het.

Terug by die huis, kry ek uiteindelik kans om bietjie te werk. Op ‘n stadium begin Ma wonder hoekom draai hulle so lank met Trompie? “Seker omdat hulle hom moet skeer” antwoord sy haarself en ek gaan aan met werk. “Kan ek vir ons sop warm maak?” vra Ma. “Asseblief, ek is honger” antwoord ek.

Sop was net opgeskep, toe kom die sms. “Ons moet vir Trompie gaan haal” sê Ma en mik om op te staan en haar sop net so te los. “Ek is honger” grom ek en sit my sit vaster op die stoel. Klem die lepel stewiger vas. “Ag ok, dan eet ons maar eers” gee Ma toe.

Trompie lyk weer soos ‘n jong leeutjie. Baie beïndruk met homself en sy nuwe haarstyl. Wonder bo wonder is hy stil op pad huis toe. Maar hy kry warm en wil nie stilsit nie. Blyk toe hy het ‘n nood van epidermiese proporsies gehad, want toe Ma hom neersit waggel (Trompie is oud en bietjie rond, hy hardloop lankal nie meer nie) hy dadelik gras toe. Soek nie eers ‘n beenlig plek nie, gaan sit net. Toe stap hy pronkerig die huis binne om sy nuwe styl te gaan afwys en te eet. ‘n Man is darem honger na so ‘n oggend en Ma het vir hom darem ‘n bietjie van die veelbesproke hoender gebêre!