‘n Haai-aanval in Pretoria en die klas van dinge…

Ek het mos nou al in my lewe op ‘n paar plekke gewerk. Van “casual” in die bank in my studentedae… dit was ‘n ramp… tot by aanlynredakteur speel van ‘n tydskrif. My eerste groot en rêrige werk in die kommunikasieveld was by ‘n staatsdepartement in die 90s.

Ek het daardie een nogal geniet. Dit was een van die kleiner departemente  wat meer met die ander departemente as die publiek te doene gehad het. Juis daarom moes ons elkeen ‘n “allrounder” in die kommunikasieafdeling wees. Binne ‘n paar maande het ek ondervinding gehad in alles van uitstallings en persverklarings tot by koerantuitleg en toesprake skryf.

My grootste vreudge was toe ek ontdek het die Nasionale Dieretuin in Pretoria val nog so half en half onder die departement, en dit was loopafstand van my kantoor af… So was ek daar toe die olifante in hul nuwe kamp ingetrek het, Hobbit die gorilla sy  21ste verjaarsdag gevier het, die Komodo Dragons hul eerste tree in hul nuwe huis gegee het en die Koalabere verwelkom is.

Ook vir die eerste, en ek vermoed tot op hede, enigste haai-aanval in Pretoria se geskiedenis! Die dieretuin het op daardie stadium ‘n “ragged tooth shark” – geen idee wat sal dit in Afrikaans wees nie – gehad. Die haai moes ‘n nuwe tenk kry en onse departement is opgekommandeer om te help met die bou. Kom die dag toe wat Mnr. Haai (kon Mev. Haai ook wees) toe gevang moes word vir die groot trek. Al wat ‘n koerantverslaggewer en ek (ek het die departement se koerant verteenwoordig) was daar. Die dieretuin het die water tot so by kniehoogte uitgetap en toe is daar een man in om Haai aan te keer. Na ‘n groot gesukkel is Haai toe darem nou amper uitgelig deur die manne wat gereed staan om te help met die draslag. Teen daai tyd was Haai ook nie meer in ‘n goeie bui nie, hap toe sommer na die naaste been hier voor hom. Gelukkig kon hy net die arme man se maermerrie skraap. Het hy hom van die kant af gebyt dan was hierdie nou ‘n treurverhaal. Maar die volgende dag toe verkondig die groot Ingelse koerant dit op hul voorblad: “Shark attack in Pretoria!”. En ek was daar…

Ek onthou ook ons eerste uitstalling goed. Elke jaar het elke departement mos ‘n begrotingsrede in die Parlement. Dis ‘n hele gedoente wat ‘n week lank aanhou. Hier in die middel 1990s toe besluit ons, ons gaan nou uitstalling in die Parlementsgebou hou tydens ons department se begrotingsweek. Voor ons het niemand anders nog daaraan gedink nie. Na ons het baie gevolg. Maar daardie eerste jaar… Die uitstallingsmateriaal was nie die ligte raamwerke van nou se dae nie. Dit was hopeloos te swaar om op ‘n vliegtuig te laai. Dis toe wat ek en die grafiese ontwerper kombi huur en die pad vat Kaap toe.

Ons was so vlak voor Bloemfontein toe kry ons ‘n pap band. Die son was net so aan die sak. Daar kry ons nie die spaarband los nie. Die kombi was van Durban en die spaarband het vasgeroes. Ons het die kommunikasieafdeling se enigste selfoon gehad. Jy weet daardie jare was die fone nog so groot soos bakstene en so skaars soos hoendertande. Bel ek die Direkteur in die DG se kantoor, maar die vrou lag toe so oor ons penarie en oor sy die tale gehoor het wat die Grafiese Ontwerper gespreek het terwyl hy sy wit hemp onder ‘n kombi vuil smeer, dat sy nie aan ‘n plan kan dink nie. Ten eindelaas word ons toe ingesleep tot op Bloem waar ‘n werkswinkel so uur of twee gespook het om die band te vervang. So kom ons toe eers anderkant teetyd die volgende dag in die Kaap aan.

Die uitstalling het goed afgeloop. Die een aandfunksie wat ons by die uitstalling gehou het was amper ‘n flop. Jy sien, ons stal toe uit vlak voor die Ou Raadsaal waar Eerste Minister Verwoerd destyds gesteek is.  Plaas bly ek en die einste Grafiese Ontwerper toe nou maar stil, maar ons was nog jonk en stout en albei het sterk verbeelding gehad. Vertel ons vir die DG se sekretaresses dit spook mos nou daar in die Ou Raadsaal… Weier hulle ampertjies om by die funksie te werk van pure banggeid. Kry ons weer raas by die Adjunk en die Direkteur, maar ons het jare daarna nog oor die spookstorie gegiggel.

So op ‘n ander jaar is ek en een van my destydse kollegas amper in die einste Parlement gearresteer.  Dit was weer begrotingstyd en ons was hard aan die werk tussen uitstalling en persverklarings en toesprake skryf. Ek dink die Adjunk Minister was aan die woord, toe kom die boodskap ons moet dadelik nog afskrifte van die toesprake na die galery neem. Op daardie stadium was ons in die Departementele kantoor oorkant die Parlement. So storm ek en Dries toe met die pak papiere by die Parlement in, maar die sekuriteit weet ons is van DOW en hulle kan sien ons is op spoed. Van inteken en besoeker-plakkers kry was daar toe geen sprake nie. Dit was eers toe ons nou behoorlik in die gebou is, dat ons besef ons is nie seker waarheen om te gaan nie. Ons storm toe maar voort gang af totdat ons op ‘n kol op twee manne afkom wat lyk hulle kom uit “Men in Black”. Dis net swart pakke en mikrofoondrade om die ore… “Wie is julle? Waarheen gaan julle? Het julle sekuriteitsklaring?” onderwerp hulle vir ons net daar aan ‘n ondervraging.

“DOW. Begrogting. Adjunk Minister toespraak” is al wat ons uitasem uitkry. Openbaar die twee manne toe darem medemenslikheid en sê: “Nou draai julle om. Gaan daar links en dan regs. Vinnig. Op die oomblik is julle in hoë sekuriteit Nasionale Intelligensie se gebied. Ons kan jul arresteer…” hoor ons nog soos ons die hasepad kies.

Groot gelag daaroor daarna, maar op daardie betrokke minuut was ek baie benoud! En dan was daar die keer toe ek deel was van die span wat met die Presidensiële inhuldiging se voorbereiding moes help, om nie te praat van die keer wat ek ‘n Ingelse adelike se aandag van bossies in ‘n begraafplaas moes aflei nie. Maar dis stories vir ‘n volgende keer…

20170526_172436
Hobbit se 21ste verjaarsdag in die Nasionale Dieretuin. Hy is in 2009 dood weens diabetes toe hy 30 jaar oud was.

7 thoughts on “‘n Haai-aanval in Pretoria en die klas van dinge…

  1. Dit het nou sommer ‘n hele klompie goeie herinneringe teruggebring. Ek vertel mense nou nog van die haaiaanval in Pretoria wat ek aanskou het 🙂 Ons lewens het sedertdien allerhande interessante draaie geloop, maar dis soms lekker om weer oor die ou dae te dink. Dankie, Gerda, dit was ‘n heerlike leesstukkie so op die Sondagoggend.

    Liked by 1 person

Lewer kommentaar