Ek en my boeke…

Ek en boeke is al van kleinsaf groot maats. Ai en by ‘n tweedehandse boekwinkel moet ek liewer nie ingaan nie. Ek kan geld op boeke uitgee soos wat ander vroue klere en skoene koop.

Nee, ek lees nie noodwendig net Afrikaans nie en die swaar letterkunde moet maar verby hou. Ek wil ‘n storie verstaan as ek dit lees.

Op my boekrak kuier ‘n groot verskeidenheid van skrywers en stories saam. Gepak in ‘n volgorde wat net vir my sin maak. Ek het die afgelope vyf jaar drie keer getrek en elke keer was die boeke eerste gepak. Niemand mag gehelp het om  dit in of uit te pak nie.

Alhoewel, toe ek die slag van die een kant van Graskop na die anderkant getrek het, het ek hulp gehad. My huiswerker, later kollega en goeie vriendin, Lucy se  seuntjie Jordan was toe 11 jaar oud. Hy wou help, toe pak hy solank boeke uit.

Kom ek by die boekrak, toe drink Shakespear tee saam met Liewe Heksie, Trompie het verdwaal in die 2de wêreldoorlog en Jane Austin verstom haar aan die vampires in Twilight. Ek het lank gesit die aand om dit reg te kry. Reg moes dit dadelik reg, die ander goed kon maar vir eers in die bokse bly.

Ek kry nog nie vat aan e-boeke nie. Verkies nog om ‘n regte boek in my hande te hou, die papier te voel, die reuk te kry…

Sekere boeke word jaarliks gelees. So kan ek my steeds verkneukel in die Maasdorpreeks en Stories van Rivierplaas. As ek die dag siek is, dan bring Daddy Longlegs troos en om een of ander rede lees Shakespear se komedies vir my lekker as ek in ‘n vliegtuig is. 

Die boekrak moet gereeld afgepak en afgestof word. Dit vat ure. Dan wonder ek vir ‘n oomblik: “is al die boeke regtig nodig?” Maar hoe sal ek ooit die ou vriende kan weggee? Anne of Green Gables gaan kuier gereeld by Heidi. Ek is seker Trompie konsistorie saam met die Uile by Jan Spies en PG du Plessis as ek nie hier is nie en nou die anderdag het ek President MT Steyn gesien waar hy gedigte van AG Visser aan Pollyanna voorgelees het.

Elke boek het ‘n storie. Party is al voos gelees, ander net eenkeer, maar vir elkeen  is daar ‘n plek. Van my 1977 Bollies tot my Ouma se handgeskrewe resepteboek. Saam vorm hulle my kleurryke wêreld van motivering, inspirasie en ontvlugting.

4 thoughts on “Ek en my boeke…

  1. Jy sien, dit is hoekom ek lekker by jou kom kuier. My boeke is net so belangrik. Nou speel ek met die idee om ń tweedehandse boekplekkie in my meubelwinkel te begin. Maar hoe. Ek sit met my eie paar honderd boeke, plus my skoonsus se kas vol. Hoe laat gaan jy jou boeke!!! My finansies kry swaar met al die nuwe boeke wat ek koop, so die winkeltjie sal eintlik vir myself wees. Steeds.

    Liked by 1 person

      1. Dink jy so? Maar ek moèt iets met my boeke begin doen. Voel nie reg om te vergader en van hulle nie weer te lees nie. Ek weet nie. Ek kry nie net weggegee nie. Nie oor geld nie, maar nie almal waardeer regtig ń boek as ń geskenk nie.

        Like

  2. Ek is MAL oor jou boekrak!

    Ek is ook heilig op my boeke – ek probeer OU digbundels versamel. En my ouma se stokou Bybel en my oupa se gebede boek is ook op my rak – ook in ‘n volgorde wat vir my sin maak. ek kan ook nie verby tweedehandse boeksinkels loop nie en op elke nuwe dorp waar ek kom probeer ek so winkel soek. Soos ou kerke en begraafplase ook. Ek het ‘n Kindle geskenk gekry, maar die lê ook en stof vergader in my lessenaar se laai.

    Daar is net ‘n anderste tipe bekoring aan ou tweedehandse boeke – ek wonder altyd of daar nie gevoelens / emosies van die vorige lesers tussen die ou geel bladsye vasgevang lê nie.

    Liked by 1 person

Lewer kommentaar