Kyk die kat uit die boom uit

Daai ou gesegde van om die kat eers uit die boom uit te kyk, werk toe nie letterlik nie. Nou die anderdag besluit ons om te braai. Pa het die vuur aan die gang en ek staan nader vir gesels. Skielik hoor ons ‘n kat. Vreemd vir ons erf, ons het net honde. Pa kyk op. “Daar sit die kat in die boom”. 

Ek kyk op en gewaar ‘n jong katjie tussen die takke. Lyk asof sy bo-op ‘n duifnes lê. “Die arme kat” sê ek. “Los” sê Pa, “sy sal self afkom.” Ek is die huis in. Halfuur later is ek weer uit om te kyk hoe vorder die vuur. “Miaau” kom dit vanuit die boom. Ek staan nader. Katjie het bietjie afgeskuif. Ek strek, sit my hand op ‘n tak neer. “Miaau” sê die kat en probeer haar poot op my hand sit. “Sy vra hulp. Miskien moet ek op ‘n stoel klim.” 

“Los die kat. Netnou krap sy jou” sê Pa. Ek bly karrimg by die boom. “Gaan haal die besem” gee Pa raad en draai die wors om. Ek kry die besem. Por vir kat so bietjie ondertoe. Sy skuifel verder af en miaau benoud. Uiteindelik is sy binne bereik. Stukkies bas en stof reën op my neer toe ek haar aftel. Sy spin tevrede. Ek sit haar op die grond neer, maar sy hardloop nie weg nie. “Sy is mak” sê ek. “Sy is te maer” sê Pa. 

Ma loer by die kombuisdeur uit. “Waar gaan jy met daai kat heen?” vra sy. Ma is allergies vir katte en hou nie van hulle nie. “Sy is ondervoed” sê ek. 

“Katte gee omlope” sê Ma, maar gee tog bakkies kos en melk aan. “Ek het net hondebolletjies” sê Ma. Katjie eet die hondekos asof dit varsgebakte vis is. Een van die honde blaf en sy spaander agter ‘n plant in, voor sy op die voëltjiebak spring. Ek gaan in om te eet. Seker die kat sal self haar weg uit vind.

Toe nou nie. Na ete kry ek vir Pa en kat agter in die tuin. Kat eet terwyl sy op die tuintafel sit. Sy loer benoud na Baba Bessie en Her Royal Naughtyness Heidi wat onder rondsnuffel. “Ons sal moet plan maak met die kat” sê ek. “Dis niemand hier rond se kat nie” sê Pa. “Sy is baie maer, ek dink sy dwaal al ‘n paar dae rond.”

Ek bel ‘n vriendin. Is nog besig om vir haar van die kat te verduidelik, toe spring Bessie skielik teen die tafel. Die katjie skrik en spaander langs my verby tot hoog in ‘n ander boom in. 

Ek is moedeloos en loop die huis binne. ‘n Rukkie later waag ek dit weer buite. Dis amper donker. Pa staan op die tafel. Sy aandag êrens bokant hom in die takke. “Ag nee, daar gaan sy weer hoër op. Help my af” kla Pa. 

Ons gaan sit. Na ‘n paar minute miaau sy weer. Sy het weer afgeskuifel tot op die tak wat oor die tafel hang  Ek klim op die stoel en dan op die tafel. Sy is steeds ver te hoog. Ek gee op. Klim weer af.

Ons sit. Dis donker. Ek sit my selfoon se flits aan en lig in die boom op. Sy is besig om af te skuif op ‘n laer tak, maar is te bang om verder te gaan. Ek klim weer op die tafel. Strek my uit, maar kat is te hoog. Pa gaan haal weer die besem. Ek por haar aan. Amper binne my bereik, karring sy skielik op ‘n ander tak verder weg. “Trek die tak af” sê Pa en klim op die stoel. Nog stof, bas en blare reën op my neer.

Uiteindelik het Pa haar. Sy is verskrik en spartel. Ek vat die kat by Pa en kalmeer haar eers. Daar staan ons in die donker. Ek op die tafel met ‘n kat in die arms. Pa met die besem voor die tafel. Ek gaan sit met kat en al eers op die tafelrand voor ek afklim. Binne blaf die honde histeries. “Kry die honde weg, ek gaan haar invat.”

Ek en kat kom veilig in die spaarkamer aan. Ek sit haar neer en sy kruip onder die bed in. My selfoon vertel my, my vriendin het iemand wat die kat sal vat, maar eers die volgende dag. Dit gaan nie werk nie!

Ek stuur ‘n boodskap vir ‘n oud-kollega. “My ma sal haar vat” kom die antwoord. Ek bel. “Kan julle haar vanaand kom haal? Die kat kan nie hier bly nie, my ma is allergies.”

“Ons is op pad” hoor ek dankbaar haar antwoord. 

Ek kry vir kat omder die bed uit en gaan staan buite en wag. Sus haar so bietjie. Dis warm. Ek is vol stof en kathare. Uiteindelik stop die motor voor die hek. Oud-kollega vat die kat by my en kat se oë gaan dadelik toe. Sy word plegtig in die mandjie, uitgevoer met ‘n kussing, gelaai. 

Ek maak my verskyning in die sitkamer. “Wil jy poeding hê?” vra Ma. “Ek gaan eers bad” sê ek en verdwyn. ‘n Rukkie later toe lê daar ‘n klomp sand in die bad en ek voel beter. Daar het amper vier ure verloop vandat ek die eerste keer die kat gehoor het. Ek hoop nie ek moet gou weer ‘n kat uit ‘n boom kry nie! 

6 thoughts on “Kyk die kat uit die boom uit

Lewer kommentaar